• Sidney Gilroy

Lank terug het ek 'n arm gesin geken. Hulle het saam met ander mense op 'n plot gebly. In skeephouers. Ek het per abuis van die plot tussen die bloekombome uitgevind. Dit was net nadat ek lewend uit 'n wrak op die R59 gehaal is. Ek kry steeds nagmerries van die klank van staal wat om my frommel; die verwarring van stemme wat ander waarsku om "nie te kyk nie" en die reuk van olie oor warm teer. Daarna voel ek vir 'n paar weke verdwaald tot 'n vriendin vir my sê, jy is ongeanker. Kom oor jou gebreekte ribbes en die oorlewing van jou gewisse dood en gaan help ander.


Dit was 2009. Almal het swaargekry. Baie fabrieke het toegemaak. Só eindig ek met arms vol babagoed by 'n kleuterskool in die dorp op. Die foon lui terwyl ek voor die ontvangsdame staan. Die gesprek is stram, tog dringend en heel uit plek met stemme wat skater en joel in die agtergrond. 'n Kleuter is vanoggend afgelaai. In gips. Van haar enkels tot by haar nek. Dit is die welsyn wat geskakel word.

"Was sy in 'n ongeluk?" vra ek as die ontvangsdame die foon neersit.

"Nee," Sy skud haar kop. "Die ma is 'n skisofreen. Dit het al voorheen gebeur, maar nog nie só erg nie."

"Enkelma?" raai ek.

"Dis net sy en die kind,"

Ek wys na die doeke en NAN-blikke tussen ons. "Het sy hulp nodig?"

"Mevrou Jacobs van die welsyn het gaan kyk. Hulle bly in 'n woonstel in Loch straat. Bo die kafee,"

"Kan ek haar nommer kry?"


Die woonstel was verlate toe ek daar kom. Dit vat nie veel om die welsynkantore op te spoor nie. 'n Triesterige rooibaksteen-geboutjie sonder 'n grasperk naby die industriële gebied. Mevrou Jacobs is 'n bruin vrou agter 'n stapel leêrs. Sy het die gesin na 'n skerm geneem. Hulle is ses maande agter met die huur. Meeste van die meubels is al verpand. Die ma het in 'n oomblik van waansin die meisie se stootwaentjie aan die bopunt van die trappe omgetiep. Ek vra vir aanwysings.


Verby 'n informele nedersetting en plotte vol skrap vind ek die klein plantasie en tussen die bome; meer as 'n honderd mense. Mans. Vrouens. Oumense. Kinders. Elke skeephouer is met karton of sinkplate in drie kamers verdeel. Die enkele uitgang word as stoep gebruik. Daarop sit die inwoners, voosgebrand, en hou kleintjies dop wat in rooigrond en stof met klippe en die oorblyfsels van poppe speel. Die lug ruik na verskroeide gras.

Ek word verwelkom asof hulle my verwag het, 'n tikkie verligting as ek sê dat ek nie 'n afgevaardigde van 'n kerk in die dorp is nie en toe teleurstelling as daar nuuskierig na die leë laaikant van my bakkie geloer word.

Ek verduidelik na wie ek opsoek is. Ek kry die indruk dat hulle mekaar nie werklik ken nie. Toe ek noem dat sy vandag maar hier aangekom het, word ek na 'n buitegebou gelei.

Die pleisterwerk val in groot skerwe van die ongeverfde mure af. Daar is nie 'n deur nie. Ook geen elektriese lig binnekant nie. Die gebou was voorheen 'n stal van soorte. Dit lyk klam. Sy sit op 'n bierkrat, skuins van die ingang, sodat haar gesig versteek bly. Haar kniegkoppe wys deur die materiaal van haar rok; haar hande rustend daarop. Ek verbeel my haar bleekerige, maer vingers om die stootwaentjie se handvatsels. Ek staan buite en praat. Die kleur van haar oë val my op. Dartelende blou poele. Haar sinne is presies en sy gebruik woorde wat my laat dink dat sy nie 'n Gautenger is nie. Kaaps, dalk. Ek vra oor die kind. Haar naam is Elisa. Mens spreek dit uit asof in Engels.

Sy het nie my hulp geredelik aanvaar nie en ek moes ook "uithelp" met van die ander inwoners se behoeftes. Ek skakel in by die string kerke en uitreikaksies; hou my oog op Elisa, wie se gips metertyd verdwyn. Sy is 'n mooi kind met haar ma se oë en blonde hare wat weerbarstig agter haar ore krul. Sy praat min en gee nie veel aandag aan wat buite haar onmiddelikke dampkring aangaan nie. Maaitjies maak sy nie. Die enigste keer wat ek haar sien speel het, was toe sy agter perdeblomsade in die wind aangehardloop het.

Elisa en haar ma trek nie uit die stal uit nie, maar ek is gerus dat die kind skool toe gaan en daar elke aand 'n bord kos vir elkeen onder die afdak, wat as kommunale kombuis funksioneer, gehaal kan word.

Saam met Mevrou Jacobs word Elisa se leêr bygehou. Solank sy eet en veilig is, is pleegsorg nie 'n opsie nie. Ander probleme duik egter by die skool op. Elisa sukkel met basiese vaardighede. Sy verloor gewig. Sy bly slaaperig. Mevrou Jacobs kry vrottende borde kos en talle leë hoesstroopbotteltjies onder die bed in die stal. Elisa daag by die skool op met blou kolle. En brandmerke. As die skroewe aangedraai word, begin Elisa se ma praat van familie in Natal, maar sy kan nie name of telefoonnommers noem nie.

Van die ander inwoners begin skinder. Elisa se ma praat met haarself. Sy hoor stemme. Sommige nagte skree sy. Elisa ook. Tot 'n versmorende klank, soos 'n hand wat oor 'n mond gedwing word, van uit hul kamer opklink. Mevrou Jacobs ontbied 'n sielkundige. Die pille wat voorgeskryf word, is altyd voor die einde van die maand klaar. Elisa slaan nou aan die ander kinders by die skool. Sy maak haar broekie nat. Haar eerste sinne is vol swetswoorde.

Uit desperaatheid sit ek by as daar aan Elisa se ma verduidelik word dat dit die lááste keer was.

Ek sal nooit die leë blik in haar oë of die grynslag om haar mondhoeke vergeet nie. Sy wieg haarself terwyl Mevrou Jacobs die aannemingsproses verduidelik. Elisa sit afgetrokke langs die krat.

Die oproep kom skaars drie dae later. Die stal is vanoggend leeg gevind.

Ons het die polisie laat weet. En die verkeersdepartement. 'n Patrolliemotor sweer hulle is by 'n rusplek in Villiers opgelet. Ek self ry die dag my petrol uit. Buitekant Warden op die N3 word hulle die laaste keer gesien.

Elke keer wat 'n perdeblomsaad deur die wind opgeswiep word, dink ek hoe oud sy vanjaar word.

  • Sidney Gilroy

By 'n busstop in Den Haag het ek bevriend geraak met 'n man uit Syrië. Hy het baie ouer as sy 24-jaar gelyk; sy hare dra hy langer as die kortgeskeerde amper-punk styl wat die somer die gewoonte was. Swart krul dit teen sy slape af tot verby sy hoë wangbene waar dit in die fyner haartjies van sy baard verdwyn. Ek wag vir die tram wat my van Koningin Wilhelmina straat na die strandfront sal neem. Ek dra 'n kortbroek en plakkies wat laas die warm strande van KwaZulu Natal geproe het, hy is in 'n nuwe denim en verslete hemp. Hy staar bekommerd voor hom uit en rook, die sigaret al halfpad 'n kooltjie getrek. Sy vingers vliet oor die skerm van sy foon en dan prop hy die foon by sy broeksak in voordat hy die halfgerookte skyf oor die straat skiet. Die skerm het 'n lelike kraak, sien ek. Fronsend kyk hy straataf.

"Ben jij boos? Is er iets mis?" vra ek as hy op die plek rondtrap en sy kop vir homself skud.

Die skielike glimlag vang my onkant.

"Ek praat nie Hollands nie. Ek is nie van hier af nie." antwoord hy met 'n aksent wat klink asof sy tong agter sy voortande vashaak.

Ek slaan oor na Engels nes die tram rammelend voor ons stop. Hy is sonder blyplek. Vandat hy in die stad aangekom het, Air BnB hy. Dit kos €45 per nag. Die geld wat sy ouers vir hom gegee het toe hy sy tuisland maande gelede verlaat het, is nou klaar. En in Homs werk die selfoonnetwerke skaars, watwou die banke. Buitendien, daar is niks oor om vir hom te stuur nie. Hy het 'n werk, maar dié betaal hom eers oor bietjie meer as 'n week. Hy het blyplek probeer reël deur ander Siriërs in Den Haag te probeer opspoor, maar tans is dit vrugteloos. Sy rugsak en tas het hy by 'n fietsskerm toegesluit.

"Waarheen is jy op pad?" vra ek as die tram se stopplekke min raak.

"Scheveningen," probeer hy sê, maar dit kom meer uit as "Skeêwieng".

"Ek ook," Ek trek 'n handdoek uit my rugsak. "Ek gaan strand toe. "Waar ek vandaan kom, is daar baie strande." Ek wys na my wit bene. "Al lyk dit nie so nie."

Weer die skaam glimlag. "Jy moet die Mediterreense see sien. Ek mis dit. Dis waarom ek vandag gaan. Ek mis dit."

"Wel. Kom saam. Ek is ook alleen."

Ons spandeer die dag as vreemdelinge op 'n vreemde plek. Die strand lyk soos wat ek ken, maar die see is branderloos, uitgestrek en onrustbarend grys van kleur. Hy praat geredelik. Ek is verbaas oor hoe presies hy tot hier gekom het. En waarvandaan. Daar is baie toeriste en as ons verby die kilometer strandkafees en restaurante drentel toe dit laatmiddag word, steek hy weer sy hande in sy sakke en hy kyk af.

Ons bly in kontak. Hy het blyplek gekry. Weke later nooi hy my om makdus, bone en halloumi by 'n tradisionele restaurant te gaan eet. Hy het die plek uitgesnuffel en wil dankie sê vir die geld wat ek hom voorgeskiet het.

"Ek dink daaraan om te waai," sê hy as hy oor die tee met kardamom daarin blaas.

"Waarheen?"

Hy lig sy skouers. "Ek weet nie. Ek voel nie tuis hier nie. Dalk Ooswaarts."

Twee maande later kom die Whatsapp van uit Cologne. Die rit van die onsigbare grens tussen Hoogvliet en Duitsland was korter as wat ek gedink het en toe ek daar aankom, het ons afgespreek om in die oudste gedeelte van die stad te ontmoet. In die skadu van 'n monument sit ons en gesels. Sy hare is geknip; die groen van sy oë meer helder. Sy baard is ook korter sodat 'n enkele kuiltjie wys as hy lag. Nou lyk hy 24. Hy kom meer ontspanne voor - praat en gesels oor sy nuwe werk en huismaat, maar as ons kom by die oorlog, die vlug en sy familie wat steeds daar is, word sy gesig somber. Hy strek vir nog 'n sigaret terwyl sy oë ontwykend op die ruïne van 'n Romeinse muur rus.

"Net die dooies sien ooit die einde van oorlog, weet jy." Die sigaret talm tussen sy vingers. Hy buig vooroor en staar in die brandende rooi van die sigaret sodat die rook oor sy gesig draal. "Ek dink daaraan om te waai."

"Waarom?"

"Ek voel nie tuis hier nie."

Ek kan nie vir seker sê of die waterigheid in sy oë van die rook is nie.

  • Sidney Gilroy

Ek het saam met 'n Zimbabwiër gewerk. Hy het te voet by ons aangeklop vir werk, wat opsigself nie vreemd was nie, baie mense het nie hul eie vervoer in ons land nie. Ons het nie 'n vakante pos vir hom gehad nie, maar ek het met hom gesels want hy was beleefd en nederig met 'n regophouding en sy hande wat hy in mekaar voor hom gehou het as hy met jou praat. Asof hy bid.

"Wat kan jy doen?" vra ek. In my agterkop het ek vlugtig die hoop aansoeke van matrikulante en werksoekers in my boonste laai onthou. Mense, soos hy, sonder werk.

"Enige iets. Ek sal enige iets doen."

Dit het my bygebly dat hy nie gesê het hy kan enige iets doen nie. Hy sál enige iets doen.

As hy teleurgesteld was toe ek groet met 'kom hoor maar af en toe', het dit nie op sy gesig gewys nie. Hy het weggestap en van 'n afstand af die fabriek en erf vir 'n rukkie dopgehou, sy hand 'n donker afdak vir sy oë.

Drie maande later was hy terug. In die ontvangslokaal het hy met 'n enkele bladsy in sy hand vir my gewag. Hy gee dit vir my voordat hy groet.

"Wat is dit dié? vra ek.

"'n Sertifikaat."

"Vir?"

Hy het wyd geglimlag en sy ken met 'n aks gelig. Ek het 'n flikkering in sy oë gesien. Asof hy my uitloorlê het. Iets tussen trots en verlangs van arrogansie. Hierdie was 'n man met 'n plan.

"Ek het myself laat kwalifiseer," Hy wys deur die ruit na waar die enorme heftrokke staal op die trokke laai. "Ek kan een van dáái bestuur. Hier's die lisensie."

Ek was skepties.

"Tot hoeveel ton?"

"Veertien." wys hy na die sertifikaat in my hand waaroor my oë gly.

Dit was 'n skaarste. 'n Vaardigheid waarna ons altyd moes soek. En 'n nuwe heftrok was op pad.

"Wat het jy in jou eie land gedoen?"

Weer die breë, aswit tande.

"Ek was 'n onderwyser, Meneer."

"Ek's nie meneer nie. Ek's Sidney."

"En ek's Shepard." My wenkbrou moes gelig het, want hy volg vinnig op. "Ek het op 'n plaas grootgeword. My pa wou gehad het ek moes word wat hy was."

Hy het nie gerook nie. Hy het nie gedrink nie. Hy was betroubaar en stiptelik. Dit was 'n stryd om hom te help om sy werkpermit te kry. Hy was die eerste een in sy skof om sy eie kar te koop; 'n tweedehandse Huyandai vol duike wat hy met groot trots langs die bestuurders se karre parkeer het.

As ons Desembermaande sluit, vra ek of hy teruggaan.

Hy sê altyd nee en dan kyk hy weg.