• Sidney Gilroy

Ons buurvrou het 'n gestremde kind. Hy gaan nie skool toe nie. Sy kyk bedags na hom. Almal in die buurt word eers bewus van hom as hy 'n slegte dag deurworstel. Die gewoonlike lae-bas neurie wat almal al so gewoond is soos die getjirp van die voeltjies in die bome of die eentonige enjin van 'n grassnyer word dan 'n angswekkende geskree. Hy hou nie op nie. Vir ure aaneen weerklank dit; 'n diep, hartseer klank asof hy iets vra en niemand verstaan wat hy wil hê nie. Die van ons wat al lank in die buurt bly, ignoreer dit uit bedagsaamheid aan die jong gesin. Ek wonder soms of dit is omdat ons nie weet wat om te doen of hoe om te help nie. Soos 'n dronk mens in die publiek, kyk ons álmal en dan kyk ons weg. Kopskuddend in ons binneste. Die arme mense. Nuwe intrekkers het dit nie so maklik nie. Hulle klim verbaas uit hul karre of kom met die sypaadjie afgestorm. Iemand moor 'n kind. Natuurlik vat dit net een kyk na die erf waar die gras in kringe al deur hom doodgeloop is of hyself wat klaend op die stoep staan en die niet instaar. Ander dae is dit beter. Ek hoor hoe skop hy sy sokkerbal teen die muur wat ons erwe skei tot dit uiteindelik pap word of ek sien hom deur die gordyne beweeg. Hy het kryte in sy hand. Daar is nie 'n muur in die huis wat nog nie bekrap is nie. Hy het 'n nefie wat soms kom kuier, maar dit vat nie lank voordat die ander kinders van die buurt eerder as speelmaats opgekommandeer word nie. Wasemrig hang sy figuur in die agtergrond. Soms hardloop hy straataf sonder 'n broek aan, sy ma agterna. Ek het haar nog nooit hoor hard praat met hom nie en selfs al is hy besig om die laaste van sy heel speelgoed te verwoes, staan sy net daar: stilswyend agter die strykplank wat sy na die agtererf uitgedra het, Gospelmusiek wat van uit die huis na buite sweef. Ek groet hom as ek hom sien, al erken hy niemand se teenwoordigheid nie. Ek lees dat in Ysland en sommige Europese state die medici al so gevorderd is en die sentiment van die regering van die aard is dat kinders soos hy se geboortes amper nie meer bestaan nie. Laasweek skop hy sy bal oor die muur. Dit land in ons erf. Die honde blaf histeries want hy hang oor die muur, sy oë op die bal.

"Moet ek dit vir jou teruggooi?" vra ek.

Stilte. Net die oranje bal bestaan vir hom.

"Dit gaan jou kos," grap ek as ek die bal optel. "R50... "

Hy kyk vlugtig op. Verby my. Asof hy iets van my sien wat ek nie self om my kan raaksien nie. Ek voel skuldig en swiep die bal oor die muur sodat dit agter hom land. Hy reaggeer nie.

"Dis oukei, dit kos niks nie."

Vir 'n vlietende oomblik registreer 'n glimlag oor sy niksseggende gelaat en dan hop hy van die muur af en terug na sy wêreld.

  • Sidney Gilroy

Ek ry hulle amper dood. Teen die tyd wat ek my motor tot stilstand dwing en koes-koes deur die motreën tot oorkant hulle drafstap, het die motors al redelik agter die twee honde opgedam.

Vlugtig kyk en na my horlosie. Ek het sopas die tydgleuf verpas. Ek gaan laat wees vir werk. Dalk as ek die twee rondlopers tot by die DBV kan kry, sal iemand dáár vir my ʼn nota skryf wat ek dan vir baas as bewys kan lewer. Ek vryf water uit my oë en swaai met my arms; maak ʼn lawaai. Ek verwag dat die honde die kans sal vat en deur die motors, wat nou stilstaan, na veiligheid sal glip. In stede kyk hulle vraend in my rigting, geamuseerd half. Hoekom beweeg hulle dan nie eens nie? Die verkeer begin beweeg, nou teen ʼn slakkepas, maar met ʼn dringendheid. Mense is haastig. Ek ook. Die honde bly in die middel van die pad.

“Hei!” skreeu ek deur die waas en beduie met my plathande op my bobene dat hulle moet kom. Staties. Dit lyk asof hulle aan mekaar gebind is.

Ek gaan dit oor die teer moet waag.

Ek hou my afstand as ek tot by hulle vorder. Verbouereerd en hygend trippel die twee op die middelstreep. Lang, breë tonge hang soos pienk dasse by hul bekke uit; die sterte veels te diep onder die agterbene ingevou om hoegenaamd te kan beweeg. Goudgeel oë – so bekend aan dié ras – skiet om die beurt links, dan regs, dan weer links soos die ongeduldige pendelaars in ʼn stewige stroom en met neulende toeters verby hulle swenk.

Ek waai ʼn vrou met ʼn ronde gesig met die hand weg as sy nors vir my in haar vaart wys dat ek die twee na die kant van die pad moet dwing. Hoe? Hulle staan met hul rug na mekaar, asof hulle soos soldate van ouds die vreemde, rasende bedreiging van die karre, busse en trokke namens mekaar wil trotseer en tussen hulle: ʼn meterlange houtpaal, die onderste deel van die skag nog donker en knewelrig van die grond waaruit dit geruk is; daarom vas: ʼn geroeste ketting wat van die een Boerboel se nek tot die ander Boerboel se nek span. Hulle is uitgelewer aan mekaar se drang vir oorlewing en met elke lorrie wat verby haas of elke enjin wat naby ons raas, beur elkeen voor hom uit. Hulle wil ontsnap, maar wanneer hulle in teenoorgestelde rigtings van mekaar af weg stu, span die ketting styf en eindig hulle elke slag met geweld weer in die middel van die vier bane op.

Die verkeer hou aan kom. Dit is net ʼn kwessie van tyd voordat ʼn trok nié sal uitswaai nie.

Ek moet hulle van die hoofweg af kry. Ek sou kwalik beide van hulle gelyk onder bedwang kan bring, besef ek. Daarom gryp ek vir die houtpaal tussen hulle. Met al my mag trek ek die houtpaal waaraan hulle vasgeketting is tot teenaan my borskas. Versigtig begin ek agteruit tree terwyl ek beide in my visier hou. Hoe gevaarlik kan hulle vir my wees? Die ketting is nie lank nie, skaars twee meter, en span gou styf. Amper onmiddellik forseer hulle hulself tru. Weg van my af. Dit neem al my inspanning om die houtpaal weer stewig teen my te trek. Ons meet mekaar op. Hul aangesigte is een van verbasing en vrees tegelyk. Plat voorkoppe, sterk wangbene. Gemeet aan die krag waarmee hulle my weerstaan – jonk. Ivooragtige spitstande grynslag vir my deur die skuimbolle wat teen die kante van hul bekke afdrup. Die vel is goudbruin en hang losserig om hul ribbes. Dan kyk hulle weer weg as nog ʼn ryding geraas maak om in ʼn rookwolk verdwyn. Meteens verslap die ketting ietwat. Die regterkantse een het gaan sit. Die linkerste een aarsel. Hulle is moeg. Goed so.

Ek begin trek. Links bied weerstand. Na ʼn vinnige pluk van my bolyf in die rigting van die pad se skouer, gee hy toe. Gedweë, ek wil amper dink dankbaar, volg hulle my. Ons is skaars van die pad af, of die oggendverkeer herstel na sy gemoediglike, vinnige tempo. Karre, trokke, motorfietse snel verby. Ek staan steeds met die houtpaal teen my bors, my hande om die ronding geklem, my trui nou donkerbruin gevlek en vol sand. Onder by my voete, het die twee ewe gaan sit.

Wat nou?

“Waar kom julle vandaan, my honne?” praat ek na hulle af. Nie een kyk op nie. Beide kyk vir die verkeer asof ons op Wimbledon is. Mense staar nuuskierig en kyk dan gou weer vir die spiedende witstrepe voor hulle motors se neuse.

Ons staan vir amper vyf minute daar. Doelloos. Hulle hyg. Ekself ook. Deurweek.

“Where are you guys from?” probeer ek weer as ek my asem vind. Geen repliek.

Hulle praat ʼn taal wat ek dan nie ken nie.

Dit is ʼn teef en ʼn reun, sien ek nou. Hulle trek op mekaar. Bykans dieselfde hoogte. Dieselfde bruin vel en ook ʼn ligter, amper roomkleurige vlek net duskant die lieste. Oormatige groot pote. Broer en suster? Hulle lyk nie honger nie. Glad nie spekvet nie, maar ook nie brandmaer nie. Die ribbes wat my vroeër bekommer het, verdwyn voldoende onder die vel wat los vertoon en ook dan eie is aan ʼn jonger hond. Die ketting is nie lukraak om hulle nekke gebind nie. ʼn Pasgemaakte, breërige loep hou die string in plek. ʼn Selfoonnommer is kru in die kant ingeëts. Dié twee het ʼn meester iewers.

Ek bespied die omgewing. Die snelweg sny deur ʼn gebied wat half-platteland, half-stad is. Ek ry die roete al vir vyf jaar. Die hoeveelheid karkasse wat ek op pad werk toe moes tel is talloos. Dit raak so alledaags soos die pad wat ek met toe oë kan navigeer. Buitekant my motor, en in die mistige, triesterige reënweer, lyk dit meteens vir my so vreemd soos die maan. Die veld staar my verwese terug. Hulle moet tog van iewers af kom, dink ek paniekerig as ek sien hoe doodsluiters die broer en suster vir my wag om tot aksie oor te gaan. Kom hulle van hierdie area af? Ek soek. Bloekombome en sipresse. ʼn Bouval van ʼn plaashuis. Onbewoon, beslis. ʼn Stewige draadheining aan die eenkant van die snelweg, daaragter ʼn moeraslandskap van riete en lemmerige gras wat skouerhoogte groei. Hulle moes daardeur gekom het. Verder weg, skaars sigbaar: die fabriekskoorstene van die Vaaldriehoek wat rook opstuur. Ek trek my oë op ʼn skreef. Ietwat nader glim iets soos sinkdakke waternat. Nóg rook hang daar in die lug, maar gedemp. Nie so donker soos die fabrieke se rook nie. ʼn Houtvuur? ʼn Blikkiesdorp? Dalk is hulle vandaar.

Verder niks nie. Asof hulle uit die niet uit verskyn het. Om soos die karkasse, weer in die niet in te verdwyn. Dat die snelweg, en selfs iets soos mense en motors, vir hulle aardsvreemd is, is pynlik ooglopend.

Terwyl ek tob, begin die reën met mening uitsak. My gemoed sak. Asof op instruksie, sak die twee honde se skouers ook grondwaarts.

My vrou gaan my doodmaak. My baas dalk ook. Ek bel Marelize eerste. Sy antwoord nie haar foon nie. Dan eerder my baas om verskoning te maak. Die gesprek duur minder as ʼn paar sekondes.

“Kom!”

Ek draai die kettings ʼn slag of wat om die houtpaal, dwing hulle nader aan my. By die motor kos dit effe oortuiging om hulle tot op die agtersitplek te kry. Die linkerkantste een, die reun, moet ek sugtend inlaai. Ons koppe ontmoet in ʼn oomblik van gemene worsteling. Instinktief vryf ek waar ek hom gestamp het. Die geel oë kyk my aan. Ek maak dubbel seker dat die agterdeure beide toe sal bly. In die truspieëltjie sien ek die vele poot-merke op die materiaaloortreksel. Ek kyk anderpad.

Die teef kry gou lêplek, die reun bly sit. Hy staar vir die bome en bosse en grasvelde wat verby ons sweef. Soms vir my ook. Dan vir die vele rytuie waarvan ons nou deel is. Onrustig trap hy rond. Snuif aan die paal wat steeds hom met sy suster verbind. Ek probeer hom gerusstel deur die pratende man oor die radio en die vele advertensies na klassieke musiek oor te skakel. Hy kalmeer effe.

“Ek vat julle huis toe… ” glimlag ek vir hom as hy deur die nekstut snuffel. Ek word bewus van die reuk van sy nat pels, sy asem, iets wat na bessies of kruie ruik. Hoe vreemd moet ek nie vir hom ook ruik nie. Ek en die binnekant van my motor is vir hom en haar ʼn buitewêreldse ervaring.

As ons by die blikkiesdorp op die horison uitkom, trek ek van die pad af. Ek volg die kronkelende boggels totdat ek ʼn paar skoolseuns tegemoet kom. Ek beduie deur die ruit. Nee, hulle ken nie die honde op my agtersitplek nie. Nee, niemand by die vyftal huisies besit honde nie. Nee, hulle weet nie vanwaar hulle moontlik kan kom nie.

“Dankie.”

Die seuns blyk geen belangstelling aan die honde te hê nie. Ek verlaat hulle onseker. Wat nou?

Die selffoonnommer op die kettings se loep gaan stempos toe.

As ek by die snelweg moet aansluit, kies ek die teenoorgestelde rigting. Dié keer antwoord my vrou amper onmiddellik.

“Herman?” vra sy. “Is daar iets fout, is jy veilig by die werk?”

Dit is ʼn ongewone oggend vir haar ook.

“Iets het met my gebeur op pad werk toe.”

Haar stem styg. “Is jy oukei? Was jy in ʼn ongeluk?”

“Nee, nee. Niks so iets nie. Kalmeer.”

Verlig.

“Oukei, dankie tog. Nou wat is dit dan? ʼn Pap wiel of gee die kar weer moeilikheid? Moet ek iemand vir jou skakel.”

“Nee, dankie. Ek is fine. Hier is iemand wat jy moet ontmoet. Eintlik twee.”

“Herman! Ek het nie tyd vir grappies nie. Ek kan hoor jy ry, waarom is jy nie op kantoor nie?”

“Ek het klaar met die kantoor gereël, ek vat die oggend af.”

“Om wat te doen?”

“Ek vat hulle net gou huis toe.”

“Wie?”

“Die besoekers.”

  • Sidney Gilroy

Jy het nooit voor andere gehuil nie, maar die oggend toe jy my skaam na die kantien lok en jy jou romp optrek, kon ek die trane in jou oë sien.

“Wat het gebeur?”

“Ek het geval,”

“Weer by die bus?” vra ek want ek het geweet van die mislike drywer wat gery het voordat jy jou kort bene van die onderste sport kon aflig. Ek het ook geweet dat die ander werkers vir jou gelag het en jy jouself met moeite langs die pad afgestof het voordat jy die fabriek se werf binnegekom het. Ek verbeel my vandag steeds die waaie van jou boarms en jou pofferige hande wat vies oor die voue van jou rok vee, die swart-en-goud handsak tussen die klippe en gras; jou gekwetste, donker oë versteek agter jou oordadige sonbrille. Jy was een van die trotses.

“Nee,” Jy wys na die heup wat sedertdien pla. “By die huis.”

“Oukei,” antwoord ek onseker terwyl jy stelling op die stoel oorkant my inneem en jou romp tot by jou heup opwikkel. Jy ruik na Lace-handeroom en Dove-seep. Jy dra nie vanoggend die dik, lang sokkies waarmee ek jou al gesien het nie. Ek vind dit vreemd, want dit is ʼn bitterkoue Juliemaand.

Onder jou romp sien ek niks behalwe vleklose, gladde vel nie. “Waar is dit seer?” vra ek uiteindelik.

“Daar,” beduie jy na die kant van jou dy.

“Hierdie een?” vra ek voordat ek oorleun.

“Tsss…” vertrek jou gesig met pyn, jou oë toe as ek jou been sywaarts trek.

Ek deins effe terug toe ek dit sien.

“Hoe het dit gebeur?”

Jy praat van agter jou hand wat jy voor jou oë hou. Ek kan sien dat jou wange nat is.

“Die heup,” wys jy voordat jy vinnig weer jou hand terugplaas asof jy nie wil sien waarna ek kyk nie. “Dit was koud. Saterdagaand. Ek het nie ʼn heater nie. Ek het op die heup gesit. Toe ek opstaan,”

“Ek verstaan,” stil ek jou. Die twee ringe sit duidelik waar jy met jou volle gewig op die tweeplaatstofie geland het. Die stoofplate moes rooiwarm gewees het want die vel is weggebrand tot waar ek die aartjies en vetselle deur die waterige wonde kan sien.

“Sit net stil,”

“Dis seer,”

“Ek weet,”

Ek het myself na die eerstehulpkassie gehaas. Jy loop al twee dae só. Ek laat jou die Adcodol’s fynkou voordat ek met die paraffienlappe begin.

“Dankie,” sê jy toe ek klaar is.

Deur die ruit van die kantien het nuuskierige gesigte om die beurt geloer. Jy sit met jou rug na hulle. Onbewus van moreoggend se skinderstories.

“Trek jouself aan voordat jy uitgaan. As die pyn te erg raak. Kom kry nog van die pille.”

Dit word ʼn daaglikse ritueel. Jy kom haal my by my kantoor. Die verbande en potjie paraffiensalf staan in die kantien gereed.

ʼn Paar weke later hou jy op met kom. Jy waai vlugtig van agter jou sonbrille as ek met my bakkie verby jou ry.