Bloemfonteinse speurder Sollie Mthembu en sy vrou, Nyandi, verwag hul tweede baba. Soos Naledi in haar buik groei, groei Nyandi se inkopielys dag tot dag. Terwyl Sollie planne beraam om naweekuitstappies na Mimosa Mall met sy kredietkaart te ontduik, sluip daar snags 'n psigopaat deur die strate van Harrismith wat kleuters met roomyse uit hul ouerhuise weglok en ontvoer.

Wanneer die oorskot van 'n verminkte vierjarige in 'n Tutti Fruitti-roomyskarretjie in die oggendure aan die voet van Platberg ontdek word, besluit kaptein Brummels om Parkweg se bulhond saam te sleep vir die ondersoek. Sollie lyk dalk na 'n bedeesde ou wat op die vreemdste tye oor sy eie woorde struikel, maar as hy iets beetkry, laat los hy nie.

Benoem vir die UJ-Debuutprys 2020

Speurder Sollie Mthembu lê snags wakker oor of sy salaris ooit sy vrou se ambisies sal ewenaar. Maar in Oktober verdwyn 'n ou vriend van die polisiekommissaris en hy word opdrag gegee om dié “verdwyning” te ondersoek. Kort ná hy in Rhynveld arriveer verander die oënskynlike ontvoering in ’n moordsaak en Sollie moet sy vrese opsy skuif sodat sy speurvernuf kan seëvier. 

'n Verassende debuut wat onhuts. - Beeld

Klikbek lewer 'n stewige bydrae tot ons krimikorpus. - Rapport

Hierdie fiksie sal ek beslis aanbeveel en dit verdien eervolle vermelding as ’n goeie debuut. Daarby het Klikbek ook die potensiaal om as rolprent of dramareeks kykers te boei op die skerms. Wie weet ... dalk eendag. - Litnet

Gilroy se skryfstyl is vloeiend en gestroop van oordaad en truuks. Die karakters se doen en late is oortuigend en die dialoog intelligent. Die boek is boeiend en intens, skokkend selfs. Ek voorspel ’n blink skryfloopbaan vir Gilroy. - Maroelamedia

Hierdie bundel bevat kortverhale van ’n aantal bekende skrywers, soos Marita van der Vyver, Fanie Viljoen, Nathan Trantraal, Nanette van Rooyen en Zelda Bezuidenhout. Jong stemme soos Mercy Kannemeyer, Almero Welgemoed, Corinne Raath, Sidney Gilroy en Arleen Stone verskyn ook in die bundel. Die bundel bevat stories wat so aangrypend is, jy sal als in een slag wil klaarlees sodat jy iemand word wat verdrink in stories…