• Sidney Gilroy

#Myne

Updated: May 27, 2019

Ek het die einde by die begin gesien. Selfs tóé.

-27 Mei 2009


“...I know the robin bring me many things. But sugar. He brings me sugar.”*


“Kom kyk,” sê jy terwyl jy na die ingang van die mousoleum wys.

Ek kyk na waar jy wys. Dit is ʼn eenvoudige geboutjie in die wand van ʼn dyk. Soos ons, hoort die dyk nie tussen die wilgers en die koppies om ons nie. Die gras en die botterblommetjies baklei vir oorlewing deur ʼn kraak in die sementtrap. Dit is warm vir Mei. Die laatmiddag son gooi geel strepies oor die verweerde houtdeur. Agter ons raas blousysies.

Jy staan voor die ingang asof dit ʼn kerk is.

“Ons het dit self gebou.” Jy wys ligweg na die graanstoor en die bloekombome wat agter die bult verdwyn. “Hierdie was alles veld toe ons hier gekom het.”

“Ek sien.”

“Kom!” por jy my weer aan.

Ek kyk om. Daar is ʼn paar trappies tot onder en dan sal ons uit sig wees. My kop draai nog van die brandewyne wat ons op pad hierheen weggeslaan het. Almal in Bethulie ken jou. Agter my, verder van waar ons staan, verrys die Vrystaatse-plaashuis waarin jy gebore is. Ek voel meteens onseker. Die rit tot hier spook by my. Ons is oor mekaar soos wit op rys. Maar nou is dit gevaarlik. Bloemfontein voel skielik so ver. Ons gaan aan asof die res van die wêreld nie bestaan nie. Kyk weer om. Dan vir jou. Jy glimlag gerusstellend. Die groot vensters van die huis kyk soos twee moeë oë oor die vlakte uit. Jou ma waai van die stoep af. Sy wag vir ons. Ons moet die braaivleisvuur aansteek.

“Kom kyk!” sê jy weer.

Ek stap tot by jou. Ons is nou onsigbaar vir jou pa wat ons van die stoep oorkant die verdorde grasperk af dopgehou het. Jy vat my hand in joune. Jou vingers voel soos vel en been alleen. Maar jou greep is sterk.

Die mousoleum is uit sandsteen gebou. Daar is geen name op die inskripsie nie. Net julle van kronkel oor die koperplaatjie soos die leiklipvore wat die plaas deurkruis.

“Hier lê vier generasies vóór my.” sê jy trots.

Ek kyk vir jou groen oë. Dieselfde groen as die mos in die leivore. Dan weer vir jou. Die welwing van jou hare om jou ore. Jou voorarms. Bruingebrand en skubberig. Jy is so trots terwyl jy my nadertrek asof ons deur die deur na binne kan kyk.

“Dís waarvandaan ek kom… ek wou dit vir jou wys.”

“Waarom gebruik jy nie die room wat ek vir jou gekoop het nie.” probeer ek jou aandag aflei. “Die son gaan jou verniel. Gebruik dit. Dit kos geld,” frons ek.

Jy lag net. Ek het geen verweer teen jou kuiltjies nie.

“Ek wens dit was oop,” sê jy terwyl jy teen die deur druk. Die ou man sukkel deesdae om tot hier te stap, sê jy toe jy my aan my skouer wegtrek. Ons moet terug huis toe.

Later die aand dra jy kerse aan wat jy om die gietysterbad pak. Jou pa-hulle het lankal gaan slaap. Ons ruik soos die braaivleisvuur.


“...the language is leaving me in silence.”*


Toe ek die voordeurklokkie ʼn paar dae later hoor lui, toe weet ek dis jy.

Die herinneringe van die naweek se slagting is nog rou. Ek in die BMW langs die grondpad. Wagtend op jou bakkie in die truspieëltjie. Jy so bedonnerd soos ʼn buffel in die voorman se huis waarin ons wegkruip. Niemand mag weet van ons nie. Die geveg was dodelik. Ons beide bloei. Daar is nie ʼn enkele glas in een stuk oor nie. Ons beide se kneukels hang aan toiinkies.

“Hoekom?”

“Ek kan nie verduidelik nie,” stammer jy.

Ek wil jou jammer kry. Maar die woede in my brand soos ʼn veldbrand waaroor ek geen beheer meer het nie.

Hoekom, eis ek weer.

“Dalk omdat hy ʼn dokter is…” Jy huil nou. Skud jou kop. “Ek weet nie. Dit was net koffie. Vergewe my.”

Jy het nooit gekom nie. Ek het die 186 kilometer huis toe gery sonder dat jy my gebel het.

Nou is dit Dinsdag en jy staan voor my voordeur met KFC. Jou vellies is met beestront en stof oortrek. Jy weet ek vrek oor KFC. Ons is nie meer studente nie. Ons is nou mans.

Ek maak die deur in jou gesig toe.


“... everybody wants a flame. Nobody wants to get burned..”*


“Ry jy die wit BMW” vra jy oor ʼn anonieme WhatsApp.

“Ja.”

“Ek hou jou al ʼn rukkie dop.”

“Issit?”

“Ja.”

Stilte.

Later die middag. “Was jy oor Desember in Ballito?”

“Ek was.”

Stilte.

“Ons gym by dieselfde gym, weet jy dit?”

“Issit?”

“Dis ʼn toeval, nè?”

“Dit is.”

Die volgende dag. “Onthou jy Ballito? Die matrieks in die strandhuis langs jou?”

“Ek doen.”

“Ek het baie op die stoep gesit. Onthou jy my.”

“Nee, " jok ek.

Jy stuur 'n foto van jou en jou hond langs 'n swembad.

"Ja. Jy het baie gefrons. Jy het baie op jou eie gesit en drink. Wat’s fout met jou?”

“Ek het my dinge.”

Stilte.

“Jy het ook te veel gedrink. Nuwejaarsaand. Onthou jy?”

“Ek het.”

“Jy was in die swembad in net jou onderklere.”

“Ek was. Jammer daaroor.”

"Dis oukei. Ek het wakker gebly daarvoor."

"Ek onthou nou."

Jy kom leer vir jou wiskunde-eksamens by my plek. Die bure kla oor die geraas wanneer jy oorslaap. In die gym maak ons asof ons mekaar nie ken nie.

“Ek sal jou net seermaak,” sê jy.

“Ek weet,” antwoord ek.


“...al wat ek vra is niks nie meer, as die klank van jou binnekant my deur.” *

“Ek soek my lewe lank al vir iemand soos jy.”

Om ons is dit somer. Die son skiet vonke oor die stroompie wat moeiteloos verby ons kartel. Ons het ʼn versteekte wegkruipplek gekies. Dit is asof iets in my brein foutgegaan het. Dit voel asof ek aan die brand is. En jy is die petrol wat die vlamme stook.

“Ek soek al lank vir iemand soos jy,” sê jy weer.

Ek kan myself nie keer nie.

“En ek vir iemand soos jy,” antwoord ek met ʼn strooitjie tussen my tande. Die Klippies en Cola proe soeter as wat dit moet.


“...I’m still fighting for peace.”*


“Dit bly jou keuse.”

“Ek wens ons kon teruggaan in tyd.”

Dit vat konsentrasie dat my gesig nie die storm binne my moet laat deurskemer nie.

“Jy het my rêrig opgefok.”

En jy vir my, wil ek sê.

"Gaan jy niks sê nie."

Die beskuldiging in jou blik laat destyds soos netnou voel. Die mense by die tafel agter ons kyk om. Dan met ongemak weg. Die kelner vra of jy nog iets wil drink. Sy trippel na die volgende tafel met jou leë glas as jy haar aangluur. Jy vee jou trane met ʼn rowwe gebaar van jou gesig af weg. Die rooi van jou baard blink nat toe jy wegkyk om jou kop te skud asof jy iets vir jouself in jou kop probeer uitklaar. “Ek het myself elke aand aan die slaap gehuil.”

Ek kan jou nie in die oë kyk nie. Hoe gaan dit lyk as ons beide sit en pis.

“Ek is jammer.”

“Dit maak nie saak nie,” snuif jy hard. “Hier sit ek…”



*Myra Ellen Amos

*Ann Lennox

*James Hillier Blount

*George Harry Kymdell

*Sia Kate Isobelle Furler

0 views