• Sidney Gilroy

Die Besoekers

Ek ry hulle amper dood. Teen die tyd wat ek my motor tot stilstand dwing en koes-koes deur die motreën tot oorkant hulle drafstap, het die motors al redelik agter die twee honde opgedam.

Vlugtig kyk en na my horlosie. Ek het sopas die tydgleuf verpas. Ek gaan laat wees vir werk. Dalk as ek die twee rondlopers tot by die DBV kan kry, sal iemand dáár vir my ʼn nota skryf wat ek dan vir baas as bewys kan lewer. Ek vryf water uit my oë en swaai met my arms; maak ʼn lawaai. Ek verwag dat die honde die kans sal vat en deur die motors, wat nou stilstaan, na veiligheid sal glip. In stede kyk hulle vraend in my rigting, geamuseerd half. Hoekom beweeg hulle dan nie eens nie? Die verkeer begin beweeg, nou teen ʼn slakkepas, maar met ʼn dringendheid. Mense is haastig. Ek ook. Die honde bly in die middel van die pad.

“Hei!” skreeu ek deur die waas en beduie met my plathande op my bobene dat hulle moet kom. Staties. Dit lyk asof hulle aan mekaar gebind is.

Ek gaan dit oor die teer moet waag.

Ek hou my afstand as ek tot by hulle vorder. Verbouereerd en hygend trippel die twee op die middelstreep. Lang, breë tonge hang soos pienk dasse by hul bekke uit; die sterte veels te diep onder die agterbene ingevou om hoegenaamd te kan beweeg. Goudgeel oë – so bekend aan dié ras – skiet om die beurt links, dan regs, dan weer links soos die ongeduldige pendelaars in ʼn stewige stroom en met neulende toeters verby hulle swenk.

Ek waai ʼn vrou met ʼn ronde gesig met die hand weg as sy nors vir my in haar vaart wys dat ek die twee na die kant van die pad moet dwing. Hoe? Hulle staan met hul rug na mekaar, asof hulle soos soldate van ouds die vreemde, rasende bedreiging van die karre, busse en trokke namens mekaar wil trotseer en tussen hulle: ʼn meterlange houtpaal, die onderste deel van die skag nog donker en knewelrig van die grond waaruit dit geruk is; daarom vas: ʼn geroeste ketting wat van die een Boerboel se nek tot die ander Boerboel se nek span. Hulle is uitgelewer aan mekaar se drang vir oorlewing en met elke lorrie wat verby haas of elke enjin wat naby ons raas, beur elkeen voor hom uit. Hulle wil ontsnap, maar wanneer hulle in teenoorgestelde rigtings van mekaar af weg stu, span die ketting styf en eindig hulle elke slag met geweld weer in die middel van die vier bane op.

Die verkeer hou aan kom. Dit is net ʼn kwessie van tyd voordat ʼn trok nié sal uitswaai nie.

Ek moet hulle van die hoofweg af kry. Ek sou kwalik beide van hulle gelyk onder bedwang kan bring, besef ek. Daarom gryp ek vir die houtpaal tussen hulle. Met al my mag trek ek die houtpaal waaraan hulle vasgeketting is tot teenaan my borskas. Versigtig begin ek agteruit tree terwyl ek beide in my visier hou. Hoe gevaarlik kan hulle vir my wees? Die ketting is nie lank nie, skaars twee meter, en span gou styf. Amper onmiddellik forseer hulle hulself tru. Weg van my af. Dit neem al my inspanning om die houtpaal weer stewig teen my te trek. Ons meet mekaar op. Hul aangesigte is een van verbasing en vrees tegelyk. Plat voorkoppe, sterk wangbene. Gemeet aan die krag waarmee hulle my weerstaan – jonk. Ivooragtige spitstande grynslag vir my deur die skuimbolle wat teen die kante van hul bekke afdrup. Die vel is goudbruin en hang losserig om hul ribbes. Dan kyk hulle weer weg as nog ʼn ryding geraas maak om in ʼn rookwolk verdwyn. Meteens verslap die ketting ietwat. Die regterkantse een het gaan sit. Die linkerste een aarsel. Hulle is moeg. Goed so.

Ek begin trek. Links bied weerstand. Na ʼn vinnige pluk van my bolyf in die rigting van die pad se skouer, gee hy toe. Gedweë, ek wil amper dink dankbaar, volg hulle my. Ons is skaars van die pad af, of die oggendverkeer herstel na sy gemoediglike, vinnige tempo. Karre, trokke, motorfietse snel verby. Ek staan steeds met die houtpaal teen my bors, my hande om die ronding geklem, my trui nou donkerbruin gevlek en vol sand. Onder by my voete, het die twee ewe gaan sit.

Wat nou?

“Waar kom julle vandaan, my honne?” praat ek na hulle af. Nie een kyk op nie. Beide kyk vir die verkeer asof ons op Wimbledon is. Mense staar nuuskierig en kyk dan gou weer vir die spiedende witstrepe voor hulle motors se neuse.

Ons staan vir amper vyf minute daar. Doelloos. Hulle hyg. Ekself ook. Deurweek.

“Where are you guys from?” probeer ek weer as ek my asem vind. Geen repliek.

Hulle praat ʼn taal wat ek dan nie ken nie.

Dit is ʼn teef en ʼn reun, sien ek nou. Hulle trek op mekaar. Bykans dieselfde hoogte. Dieselfde bruin vel en ook ʼn ligter, amper roomkleurige vlek net duskant die lieste. Oormatige groot pote. Broer en suster? Hulle lyk nie honger nie. Glad nie spekvet nie, maar ook nie brandmaer nie. Die ribbes wat my vroeër bekommer het, verdwyn voldoende onder die vel wat los vertoon en ook dan eie is aan ʼn jonger hond. Die ketting is nie lukraak om hulle nekke gebind nie. ʼn Pasgemaakte, breërige loep hou die string in plek. ʼn Selfoonnommer is kru in die kant ingeëts. Dié twee het ʼn meester iewers.

Ek bespied die omgewing. Die snelweg sny deur ʼn gebied wat half-platteland, half-stad is. Ek ry die roete al vir vyf jaar. Die hoeveelheid karkasse wat ek op pad werk toe moes tel is talloos. Dit raak so alledaags soos die pad wat ek met toe oë kan navigeer. Buitekant my motor, en in die mistige, triesterige reënweer, lyk dit meteens vir my so vreemd soos die maan. Die veld staar my verwese terug. Hulle moet tog van iewers af kom, dink ek paniekerig as ek sien hoe doodsluiters die broer en suster vir my wag om tot aksie oor te gaan. Kom hulle van hierdie area af? Ek soek. Bloekombome en sipresse. ʼn Bouval van ʼn plaashuis. Onbewoon, beslis. ʼn Stewige draadheining aan die eenkant van die snelweg, daaragter ʼn moeraslandskap van riete en lemmerige gras wat skouerhoogte groei. Hulle moes daardeur gekom het. Verder weg, skaars sigbaar: die fabriekskoorstene van die Vaaldriehoek wat rook opstuur. Ek trek my oë op ʼn skreef. Ietwat nader glim iets soos sinkdakke waternat. Nóg rook hang daar in die lug, maar gedemp. Nie so donker soos die fabrieke se rook nie. ʼn Houtvuur? ʼn Blikkiesdorp? Dalk is hulle vandaar.

Verder niks nie. Asof hulle uit die niet uit verskyn het. Om soos die karkasse, weer in die niet in te verdwyn. Dat die snelweg, en selfs iets soos mense en motors, vir hulle aardsvreemd is, is pynlik ooglopend.

Terwyl ek tob, begin die reën met mening uitsak. My gemoed sak. Asof op instruksie, sak die twee honde se skouers ook grondwaarts.

My vrou gaan my doodmaak. My baas dalk ook. Ek bel Marelize eerste. Sy antwoord nie haar foon nie. Dan eerder my baas om verskoning te maak. Die gesprek duur minder as ʼn paar sekondes.

“Kom!”

Ek draai die kettings ʼn slag of wat om die houtpaal, dwing hulle nader aan my. By die motor kos dit effe oortuiging om hulle tot op die agtersitplek te kry. Die linkerkantste een, die reun, moet ek sugtend inlaai. Ons koppe ontmoet in ʼn oomblik van gemene worsteling. Instinktief vryf ek waar ek hom gestamp het. Die geel oë kyk my aan. Ek maak dubbel seker dat die agterdeure beide toe sal bly. In die truspieëltjie sien ek die vele poot-merke op die materiaaloortreksel. Ek kyk anderpad.

Die teef kry gou lêplek, die reun bly sit. Hy staar vir die bome en bosse en grasvelde wat verby ons sweef. Soms vir my ook. Dan vir die vele rytuie waarvan ons nou deel is. Onrustig trap hy rond. Snuif aan die paal wat steeds hom met sy suster verbind. Ek probeer hom gerusstel deur die pratende man oor die radio en die vele advertensies na klassieke musiek oor te skakel. Hy kalmeer effe.

“Ek vat julle huis toe… ” glimlag ek vir hom as hy deur die nekstut snuffel. Ek word bewus van die reuk van sy nat pels, sy asem, iets wat na bessies of kruie ruik. Hoe vreemd moet ek nie vir hom ook ruik nie. Ek en die binnekant van my motor is vir hom en haar ʼn buitewêreldse ervaring.

As ons by die blikkiesdorp op die horison uitkom, trek ek van die pad af. Ek volg die kronkelende boggels totdat ek ʼn paar skoolseuns tegemoet kom. Ek beduie deur die ruit. Nee, hulle ken nie die honde op my agtersitplek nie. Nee, niemand by die vyftal huisies besit honde nie. Nee, hulle weet nie vanwaar hulle moontlik kan kom nie.

“Dankie.”

Die seuns blyk geen belangstelling aan die honde te hê nie. Ek verlaat hulle onseker. Wat nou?

Die selffoonnommer op die kettings se loep gaan stempos toe.

As ek by die snelweg moet aansluit, kies ek die teenoorgestelde rigting. Dié keer antwoord my vrou amper onmiddellik.

“Herman?” vra sy. “Is daar iets fout, is jy veilig by die werk?”

Dit is ʼn ongewone oggend vir haar ook.

“Iets het met my gebeur op pad werk toe.”

Haar stem styg. “Is jy oukei? Was jy in ʼn ongeluk?”

“Nee, nee. Niks so iets nie. Kalmeer.”

Verlig.

“Oukei, dankie tog. Nou wat is dit dan? ʼn Pap wiel of gee die kar weer moeilikheid? Moet ek iemand vir jou skakel.”

“Nee, dankie. Ek is fine. Hier is iemand wat jy moet ontmoet. Eintlik twee.”

“Herman! Ek het nie tyd vir grappies nie. Ek kan hoor jy ry, waarom is jy nie op kantoor nie?”

“Ek het klaar met die kantoor gereël, ek vat die oggend af.”

“Om wat te doen?”

“Ek vat hulle net gou huis toe.”

“Wie?”

“Die besoekers.”

0 views