• Sidney Gilroy

Liggies vir Kersfees

Op Kersdag gebeur die mooiste ding. Die liggies en boom staan al vir 'n maand lank in ons voorhuis. Elke aand skakel ons dit aan om die kleurvolle geflikker oor die geskenke te sien dans. Meeste van die geskenkies sal toe bly tot ná Kersdag want dit is nie ons jaar nie. Steeds is dit vir ons lekker en ons deel boeta se afwagting as ons met hom oor die foon praat. Natuurlik dwaal ons oë na die ander kinders in die straat want Kersfees, in sy blink, plastiese euforie is tog vir húlle bedoel. Ons grootmense verstaan die betekenis daaragter, maar niemand kan die opwinding van kinders ontneem nie. Die één tyd van die jaar wat iedere kind voorbaarlik glo in goedheid en verdienstelikheid. Die outjie oorkant die straat het onlangs begin loop (en sy stem gevind). Wankelrig en luidkeels beaam hy met vier of vyf woorde sy ouers se elke sin. 'n Huis verder het die mollerige vrou en haar lang, maer man vir eers 'n skietstilstand met die tieners bereik. Niemand verskree iemand nie. Selfs die straat se boelie ry salig met sy nuwe fiets asof die suikerige ysklont in sy mond 'n kalmeermiddel van soorte is. Die buurt se kinders speel in groepies, erg verveeld, sommiges in die strate want geen kar jaag nou nie. Hier en daar dra een 'n kleurvolle speelding of pop. Afguns en afshow is aan die orde van die dag. Die reuk van houtskool wat aangesteek word of 'n pot bleekvleis wat op 'n stoof prut hang vroegdag reeds swaar in die lug. Mense is rustig, behalwe vir die outistiese kind langsaan. Vir die eerste keer in 'n lang tyd is sy pa tuis. Hy is moeilik. Die geneul en geskree is onophoudend. Kuiermense is daar nie en hy bly binnenshuis. Ek sien geen Kersboom verby die voordeur nie, net sy pa wat moedeloos homself in die tuin afsonder. Hy foeter met die karige bedding of was sy kar. As die hittegolf soos 'n ongewensde duvet oor die teeldakke gaan lê, knoop sy vrou die gordyne in dik, lomp lisse en swaai sy elke ruit oop. Dit raak skemer en hy skree al vir agt ure aaneen. Grommig, klim die pa in sy kar en verdwyn. Die seun se stem verstil. Na 'n rukkie verskyn hy en sy ma op die stoep. Sy lyk moeg en waai halfmas oor die muur vir my waar ek agter 'n lint sigaretrook wegkruip. Nou neurie hy terwyl hy homself wieg. Sy houding verstyf toe die kar om die draai kom. Selfs die groot emmer braaihoender wat sy pa na hom toe uithou doen min om die afwesige blik in sy oë te verbreek. In stilte smul hulle aan die Kersete: hy eenkant met 'n pakkie slaptjips. Hy bly alleen buite toe almal ingaan. 'n Eensame voorbode in die tuin, sy buitelyne net-net ge-ets teen die pikdonker. Ek kyk na waarna hy staar. Verwonderd aan die liggies wat uit die ander voorhuise skyn. Die voordeur swaai oop. Sy pa se donker figuur vul die raam. Kom, probeer hy hom na binne lok. Versteen bly die seun. Die man sug diep. 'n Geraas in die voorhuis. Iets wat val. Die ligte gaan af. Stadig beweeg die kind nader aan ons muur. Sy figuur versmelt met die bakstene. Ek sien dat hy na sy ouerhuis loer. En dan weer na die ander huise . Ek sit verdwaas en luister hoe die kind se stem begin klim. Hy is bang maar weier om te beweeg. Het hulle dan gaan slaap? 'n Skaduwee doem voor die sitkamervenster op. Arms wat agter die ruit na bo reik en met iets vroetel. En dan, asof Kersvader self geland het, verhelder twee stringe liggies in reënboogkleure. Die liggies is eenvoudige strepe wat twee hande jillend heen en weer swaai. Sy pa. Die krieke se gesing vervang die geneul. Treetjie vir treetjie dwing sy nuuskierigheid hom nader aan die deur en die mallerige vuurvliegies in die voorhuis. Na bykans vyf minute is dit hy wat die liggies laggend heen en weer swaai, met sy ouers wat laggend agter hom staan. Na middernag word die liggies afgeskakel en weggepak, maar nie voordat sy pa hom op sy bed tuismaak met 'n flitslig in sy hand nie. Die ruite en gordyne hang steeds oop. Hy giggel vir homself terwyl die ligkol oor die mure en dak gly. Verwonderd kyk ek saam met hom terwyl hy elke krytfiguur wat hy op sy kamermuur gekrabbel het vir sy pa wys.

11 views