• Sidney Gilroy

Lugdraad

Vleis Visagie is ʼn man wat nie nonsies vat nie. Berta weet dit. Hy het dan vir haar gesê hy sal na die lugdraad op die dak kyk.

Sy hou aan karring.

Vleis rus sy oë op die agtertuin terwyl hy sy bene uitstrek sodat sy hakskene oor die valerige plaveisel skuur. Hy buig sy kop na agter, probeer die lugdraad van hier af sien.

Met die televisie se beeld is daar niks fout nie.

As sy ken sak, swaai die wêreld voor sy oë. Venterstraat 13 lyk maar saai. Die grasperk is meer grond as gras, onder die peerboom sweef muggies en van hier af kan hy sien dat die gat in die betonheining aan die agterkant van die erf groter geword het.

Dalk is Berta reg.

Hy dink vir ʼn rukkie terwyl hy sy bier afsluk. Berta se gat. Dis sy rusdag.

Basta daarmee!

Sy soek net skoor. Sy dink allerhande takies vir hom uit: die teëls in haar badkamer is gekraak, dit moet vervang word; die kamerdeur haak teen die mat, dit moet geskuur word; die oond se temperatuur lol, daarna moet gekyk word; die Opel hakkel teen die bulte uit, die kar moet versien word; die hond lyk oes, hy moet gebad word; die gras in die voortuin is te lank, dit moet gesny word.

Altyd iets.

Áltyd iets met Berta.

Hy laat amper die blikkie val toe sy hy haar stem hard en duidelik hoor.

“Sit regop,” beveel Berta. Sy hang deur die kombuisvenster.

Hy gluur haar aan, skuif dan teensinnige sy gewig sodat die draadstoel waarop hy sit se raam gevaarlik kant toe hel. Dan trek sy haar kop terug tot agter die gaasgordyn.

Hy hoor haar in die kombuis werk. Skielik verskyn Berta se voorarm deur die oop venster.

“Soek jy nog ʼn bier?” vra sy met ʼn frons terwyl die groentemessie in haar hand na hom wys.

“Nee.”

Haar oë gly oor die gevrekte potplante en die braaier wat al swart geroes is voordat sy weer agter die gaas verdwyn.

Hy wag tot hy Bisto in die lug ruik. As Sewende Laan se kenwysie van die gang af teem, haal hy die versteekte bierblikke van onder sy stoel uit.

Die bier is warm. Hy drink vinnig daaraan.

Berta het die televisie se klank opwaarts gestel. Vasgenael deur iemand anderste se drama. Die bure moet saamluister. Dis elke aand se storie. Sý mag rus.

Sy kop draai effe toe hy die tin verfrommel. Op sy skoot lê daar nou drie leë blikkies. Berta hou nie daarvan as hy drink nie. Sy hou telling van die kas in die garage. Hy sal plan moet sien. Hy is al drie biere verby sy kwota van vier-per-dag wat sy vrou vir hom gestel het. Sy sal die karkasse in die asblik sien.

Vleis kyk weer agterdeur toe en as hy seker is - klits hy die blikkies met ʼn uithaler maneuver na bo.

“Doef, doef, daf!” land dit op die dak.

Meteens vervaag die televisie se klank. Hy luister of Berta in aantog is. Voëltjies tjirp. Besies gons. Iewers protesteer ʼn kar se uitlaatpyp. Vleis rus sy arms op die dun draad wat die stoel se armleunings opmaak, boog sy rug sodat sy boepens nou in kompetisie is met sy pankop vir die hoogste piek in die agtererf. Van uit die buurman se tuin roep ʼn hadida.

Hy hoor nie vir Berta nie.

Hy gaan nie haar nonsies vat nie. Laat sy vrou nou nét iets sê.

Iets ritsel agter die kombuis se gordyne. Is dit sy? Hy sit homself regop. Dan redekawel Hilda en Matrone weer kliphard in die voorkamer.

Ingenome strek hy vir die laaste bierblikke, dié keer van agter die potplant.


Maandagoggend begin soos enige ander. Met ʼn skuwe groetery sien hulle mekaar af en dan is Vleis op roete na sy dagtaak: blokman by ʼn slaghuis.

Sy lewe is eintlik perfek. Berta hou vir hom huis. Die kinders is almal op universiteit.

Meeste namiddae vind hy Venterstraat nes hy hom vanmore gelos het. Dis net Berta wat karring.

Vandag is nie anders nie.

Terwyl Vleis die hek se drade wikkel (die battery is sekerlik weer pap), betrag hy Venterstraat 13 se dak. Hy moet sy oë op ʼn skreef trek want die son glim van die geute af waar die verf tot op die metaal afskilfer. Die lugdraad rank die lug in op soos ʼn N.G.-kerktoring; pylreguit op pad na die hemel.

Skeef se voet.

Hy loer weer opwaarts as hy die voordeur haal.

Nou lyk dit anders; dalk lê die lugdraad bietjie duskant toe.

Dinsdag tot Donderdag is eenders.

“Die mat haak.”

“Die motor van die hek het gaan staan.”

“Die Opel stotter.”

Die donderse lugdraad hang skeef. Teen Vrydagaand is Berta se lysie armlank. Dit. Dat. Dít. Dát. Hulle braai. Hy drink. Sy vrou gaan slaap voor die film op E-tv wys.


Saterdag staan Berta vroeg op. Hy hoor haar voetstappe in die gang verby sy kamer kom. Hy vind haar in die sitkamer.

“Het jy gehoor hoe raas die garagedeur?” vra sy tussendeur breisteke.

Daar lê al ʼn lagie room bo-op sy koffie. Hy het nog nie eers die slaap uit sy oë gevee nie.

“Het jy dit gehoor? As die wind waai kan ek nie slaap nie, so raas die ding.”

“Niks gehoor nie.” antwoord hy terwyl hy aan die koue koffie teug.

Sy snuif eers, volg ʼn paar stappe in die patroonboek op haar skoot. Tik-tik-tak. Tik-tik-tak sing die breipenne soos Berta die rooi wol oorhaal.

Hy wil vir die televisie se beheerder mik, maar haar tong spring hom voor.

“Die springveer is klaar,” Kug. “Jy moet dit vervang. Die garagedeure is hoeka jare oud.”

“Die garagedeur werk nie met springvere nie.”

“Wel, iéts is gedaan. Ek kan nie so lewe met die garagedeur wat ten hemele skree as jy net durf die knoppie druk nie.” praat Berta die televisie dood.

Tik-tik-tak. Tik-tik-tak.

“Ek sal spookpis op die gears spuit.”

“Die loopvlak is ook vuil. Die wind sal sand daarin waai.”

Tik-tik-tak. Tik-tik-tak.

“Ek sal met die tuinslang spuit… ”

Sugtend kom sy orent.

“Nog koffie?”

Vleis kyk vir die leë koppie in sy hand.

“Ja.”


Sondagoggend, voor kerk, los Berta vir hom ʼn nota langs die ketel.


“Onthou die garagedeur. Die Opel se remme moet gebloei word. Sit asseblief ʼn nuwe lem in die grassnyer. Die stort in my badkamer se warm water neem te lank. Iets drup in die spens teen die muur af. Ek vermoed die batterye van my afstandbeheerder is gedaan. Sal jy kyk? Lief jou. xxx.”


Hy doen vir die res van die dag niks nie. Verbasend, sê Berta nie ʼn woord daaroor nie.

Iets verander. Sy vrou verander. Eers teen die volgende Vrydagaand kom Vleis dit agter. Dit bekruip hom. Dalk was dit die Dinsdag toe hy terloops in die garage was en nie die garagedeur hoor gil het met die oopgaanslag nie. Dalk Woensdagaand as hy oplet hoedat Berta ʼn splinternuwe afstandbeheerder uit haar handsak grou. Miskien was dit vanoggend. Toe sy nie vir hom koffie gemaak het nie. Nou sit hy en peins. Die toiletpapier in sy badkamer het opgeraak. Berta ruil dit gewoonlik.

Vleis waggel met sy broek om sy bobene in die gang af. Berta is besig met wie-weet-wat in die kombuis. Haar badkamerdeur staan oop. Binnekant ruik dit na rooswater en lyk dit na ʼn bazaartafel: pure tierlantyntjies.

Hy kan netsowel hier klaarmaak, besluit hy. Terwyl hy op Berta se troon sit, verkyk hy homself aan die kleurskakering om hom: iets tussen boerpampoen se binnekant en appelkose wat ryp hang. Sy vrou se kamer en badkamer sien haas anders daarna uit as syne. Die beddegoed en badkamerstel pas. Daar is bloedrooi sigsagstikwerk in die oortreksels. Berta se handewerk. Dit herinner Vleis aan hul kamer van ouds.

Nou slaap hulle apart.

Vleis kyk verder. Op die spoelbak staan ʼn Barbie-pop in ʼn rok wat ook Berta se handewerk is. Barbie lyk asof sy trou. Dan die stort – vol van seep, sjampoes, stekelborsels, sponsies en ʼn matjie met knoppies daarin. So pienk soos Barbie se rok. Die badkamer ruik na Berta. As hy uiteindelik opstaan, vang sy oog die enkele foto teen die muur. Dis hul troufoto. Hy kan nie onthou wanneer laas hy dit gesien het nie. Hy voel skuldig as hy onthou dat sy oor haar stort gekla het. Dit raak winter, die warm water neuk, het sy gesê.

Hy pas homself in die klein vierkant, torring aan die kraan, draai die kop derwaarts sodat die straal teen die muur sal spuit, hou sy hand onder die water, pluk dit terstond terug. Het Berta dan gejok? Die water brand hom dan so warm is dit?

Draai toe die kraan. Draai oop die kraan. Voel weer.

Kokende water!

Iets is nie reg nie.

As hy verby sy kamer trek, pluk hy sy slaaphemp oor sy kop. Buitekant steek klippies en verdorde klitse teen sy voetsole. Met sy rug teen die verste heining en sy arm uitgestrek, lig Vleis sy duim om die lugdraad op die dak te vind. Sy mond val oop.

So reguit soos sy vinger.

Verbeel hy homself? Hy het dit dan self gesien. Dit ding hét laas week skeefgehang. Uitasem bereik Vleis die voorstoep. Hy tree terug. Wragtag! So reguit soos ʼn streep.

Iemand was op sy dak!

Met iets tussen verdwaas en verbaas tussen sy ribbes, kyk Vleis om hom rond. Die grasperk is perfek gesny. Iemand krap in sy slaai, hy moet bevestiging kry, maar hoe? Die grassnyer! Berta het gekla dat die lem stomp is. Vleis maak korte mate van die afstand, bars deur die garage se sydeur, dop die werktuig om, gly sy vinger oor die snykant. Vlymskerp!

“Bliep!” skree die garagedeur se alarm.

“Ek gaan winkel toe, kort jy iets?” verskyn Berta van uit die niet. Sy stap rustig tot by die Opel.

“Uhm” antwoord Vleis haar.

Tjoepstil rol die garagedeur op.

“Vleis?” vra Berta, die Opel se handvatsel in haar hand. “Kort jy iets, moet ek vir jou bier koop?”

“Uhm.”

“Bier, is jou bier klaar?” en sy skud haar kop vir hom.

Vleis voel verlore. Berta se hare is gedoen. Sy dra lipstiffie. Die rok moet nuut wees. Hy kan sweer hy ruik Red Door.

“Ek het nie tyd om vir jou te wag nie, Vleis! Ek moet terugkom, daar droog beskuit in die oond.” Sy klim agter die stuur in, klap die deur toe, sluit die enjin aan, sit die motor in trurat, die hek gly agter haar oop.

Die oliekol onder die kar is skoonveld. Dis net grys sement wat hom terugstaar.

Oopmond kyk Vleis haar agterna en dan besef hy: die Opel. Weg is die stowerige laag en die kat se pootmerke op die enjinkap. Iemand het die kar gewas!

“Berta, wag!” Hy moet hardloop om haar in te haal. Benoud, klap Vleis op die dak. “Wag, Vroumens, wag!” skree hy op haar.

Hulle staan in die straat. Berta rol die ruit af. Vleis voel verleë. Duiselig ook. Die lugleegte tussen hulle voel so groot soos sterrestelsels.

“Wat is dit met jou?” frons sy vir hom.

“Die… die Opel.” Hy wys na die kar.

“Ek gaan net gou winkel toe.” en sy vat liggies aan sy arm wat hy by die deur invou asof hy haar daarmee wil stuit.

Afwagting, paniek en vrees klop in sy harsings. Berta blyk onbewus, vir ʼn oomblik staar hulle net vir mekaar.

“Die Opel se olie, die remme… ek moet nog die ding vir jou bloei!”

Sy vrou kyk na haar hande, haar oë rus op haar trouring, haar stem sag toe sy praat.

“Jy kan dit Sondag doen, Vleisie. Ek is nou terug.” Berta trek weg, verdwyn straataf.

“Oukei.” antwoord Vleis verwese aan niemand nie.

Hy dwaal doelloos in die huis rond. Uiteindelik sluimer hy op Berta se bed in.


Dit voel soos ure voordat Berta terugkom. Hy sorg dat hy Midas oop kry. Voor die son die volgende oggend opkom, het Vleis die Opel op blokke. Berta kyk hom eers skeef, maar dan begin sy koffie aandra. Hy werk aan Berta se kar totdat elke kneukel van sy vet vingers se velle aan toiinkies hang. Hy vee die bloed en sweet aan sy oorpak af voordat hy verder werk. Met tye let hy Berta se enkels van onder die Opel op. Sy kom kyk wat hy aanvang: Elke pypie word nagegaan. Elke bout losgewikkel, geïnspekteer, teruggedraai en weereens bekyk. Elke vonkprop word vervang, so ook die battery, die waterpomp, die briekskoene, die kabels van die remme word verstyf, die bande geroteer, die verkoelingstelsel nagegaan, die vere verstel, die kopligte én remligte vervang en helaas, word die Opel gewas, gedroog, met poleermiddel ingevryf en die vensters met koerantpapier en blouspiritus deurskyn gemaak. Vleis kruip weer onder die kar in.

Teen skemertyd wurm Vleis homself van onder die kar uit. By die uitlaatpyp roep hy halt aan sy uittog; dit is donker, sy oë kan vir hom jok – maar Vleis kan sweer dat hy die begin van ʼn gat in die uitlaatpyp sien posvat. Hy vat daaraan, rol die roes tussen sy vingerpunte, rek sy nek om dit van nader te bekyk. Dit kan vuilheid ook wees. Hy sukkel om te sien, miskien as hy die domkrag effe laat sak. Vleis strek vir die domkrag, vat-vat voel hy vir die handvatsel waarmee hy die kar met millimeters sal laat sak. Dan vind sy vingers dit.

“DOEF!” val die Opel met sy volle gewig op Vleis neer.


Hy snork homself wakker. Die straatlig skyn in sy oë. ʼn Muskiet zoem om sy kop. Die huis is stom, die televisiestel afgeskakel. Waar is hy?

As hy homself omrol, sien hy haar silhoeëtte in die donker. Hy moes hier in haar bed aan die slaap geraak het.

“Berta, Berta” fluister hy.

Dan harder.

“Berta!”

“Vleis?” antwoord sy hom amper onhoorbaar.

“Het ek die Opel gediens?”

“Wat?” mompel sy.

“Die Opel! Het ek hom toe ooit gediens?”

“Nee. Jy het nie,” antwoord sy met ʼn gaap. “Dis nou eers Saterdag, Vleisie.”

“Ek dink ek het ʼn nagmerrie gehad.”

Berta bly lê. Staties.

Buitekant sing die krieke.

“Berta?”

“Ja?”

“Wat sal jy eendag op my grafsteen laat skryf?”

“Wat bedoel jy?” en sy gaap ʼn lang gaap.

“As ek sou sterf, hoe sal my grafsteen lyk?”

Sy kom skielik orent, pluk aan die bedlamp. Sagte lig vloed haar aansien.

“Vleis Visagie! Waarvan praat jy? Wat bedoel jy sterf? Wil jy doodgaan?”

“Nee, nee. Antwoord my net. Dit is belangrik. Wat sal op my grafsteen staan?”

Sy sug. Vryf haar ooglede, rus haar hande op haar skoot terwyl sy dink. Dan draai sy na hom.

“Hier rus ʼn… ʼn…” en sy streel sy voorarm.

“Ja?”

“Man, Vleis, ek dink! Hier rus ʼn… ʼn…”

“ʼn Luigat?”

Tsk, klap sy haar tong vir hom en sy voorarm met haar hand ook.

“Hier rus ʼn eggenoot en ʼn sielsgenoot. Vleis Visagie. Die liefde van my lewe. My man.”

0 views