• Sidney Gilroy

Mekaar



Paulina Gumede staan op saam met die morester. As sy haar kaia se deur met haar elmboog oop du en die kers in haar hand na buite hou, weerkaats ʼn groot waterpoel waar daar gister net blink geloopte grond was. Sy sug. ʼn Koue, triesterige windjie kom tussendeur die kalerige seringboom aangedwarrel. Dit is middel-Maart en die herfs klop met mening aan haar deur. Dit gaan sukkel om vandag tot by die taxi te kom. Sy trek die handdoek om haar buuste stywer; tuur oor die res van die buurt. Alex se inwoners slaap nog. Dalk as sy vroeër, voor die ander pendelaars, by die taxi kan kom, sal die been haar nie veel verder pla nie.

Voordat sy na binne draai, strooi Paulina die oorskietpap oor die erf. Die hoenderhaan sal dit weldra later vind.

Terwyl sy vir die water op die primusstoof wag, lawe Paulina haar honger maag met ʼn sny bruinbrood en van die makataankonfyt wat al suikerklonte om die bek van die glasbottel vorm.

Sy tel haar sente vir die taxi voordat sy was.

Soos dit haar gewoonte is, balanseer Paulina haarself op die bed se punt om die kontrapsie om haar linkerbeen te kry. Behendig, gly die gespes deur haar vingers totdat die metaalstawe en lis ʼn stywe harnas om haar enkel en kuit vorm. Sy het ʼn ekstra sokkie tot onder haar knieg getrek. En daarna die sykouse. Want die been neuk as die weer só raak.

Met moeite buk sy af om haar handsak op te tel en dan die leë twee-liter bottel vir die paraffien.


Sy wieg saam met die ander mense in die taxi en teen die tyd wat sy by die herwinningsaanleg aankom, pyn die been erger. Dit is amper ʼn kilometer se stap van waar die taxi haar aflaai tot hier. Meeste van die ander mense is lank reeds vort en ʼn ou vrees vou om Paulina se keel. As sy nie vandag ʼn trollie kry nie, eet sy vanaand nie. Vieserig, ignoreer sy die pyn wat skielik met mening van haar enkel na haar knieg opskiet.

By die hek wag hy haar in.

“Ek het vir jou een gehou,” groet Speedy haar opgewonde.

Haar bedremmelde vriend staan agter twee van die trollies waarop hulle die skroot moet laai. Sy oë lyk vanoggend loperig en die manier hoe sy hande bewe verklap dat hy gisteraand weer onder die proplyn beland het.

“Dankie, Speedy,” sê sy dankbaar. “Jy het nie nodig gehad nie,”

“Dis niks,” glimlag hy skeef sodat sy pienk tandvleis wys.

Paulina kyk fronsend oor die berge gemors en die blink sinkdakke van die township langs die aanleg. “Ons is seker te laat vir die trokke wat ons in die woonbuurte sou aflaai?”

Ja, skud Speedy sy kop hoesend. “Maar die lorrie is nou-nou terug. Dan klim ons op vir die highway,”

“Dankie, Speedy,” Sy forseer ʼn glimlag maar sy weet dat die teleurstelling op haar gesig geskryf moet staan want haar ou vriend praat weer vinnig.

“Ek sal jou help om op die lorrie te kom, Paulina” Speedy se hande werk behendig om die toue van haar optel-sak aan die trollie te bind. “Ek sal voor loop. Jy kan agterna kom. Jy kan die skrootmetaal optel en dan sal ek papiere en plastiek optel. Ons rus wanneer jy wil rus,”

Om rommel langs die snelweg op te tel én die trollie al die pad tot by die optel-punt agter jou aan te sleep is nie speletjies nie, dink Paulina. Sy gaan aftjop.

“Dankie, Speedy,” sê sy, maar haar woorde word deur die gebrul van die trok wat in die pad opsukkel gedoof.


Deur die loop van die dag, en met die pyn in haar been wat om die uur vererger, forseer Paulina haar gedagtes elders. Sy dagdroom terwyl sy leë koeldrankblikkies met haar skerppuntloopstok deurboor.

Wat as daar ʼn makliker weg bestaan? Wat as daar ʼn manier is wat sy, tot nou toe, nog net nie raakgesien het nie? Die ongeskiktheidstoelaag wat sy van die regering af ontvang koop ook net sóveel. Kos is duur. Vervoer is duur. Alles is duur. Sy kan maar net van elektrisiteit in haar beskeie huisie droom.

Maar wat as daar ʼn ander manier was, hou sy aan met wonder.

Die idee klou aan haar terwyl sy met haar trollie pad-af sukkel. Wat as sy, selfs met haar skewe enkel, krom voet en kort been, ʼn vaste werk kon losslaan? Wat as, vra Paulina terwyl die verkeer op die snelweg verby haar mor.

Sy begin staar vir die mense in die karre. Elke keer wat een verby haar vlieg, soek haar oë die gesig agter die stuurwiel uit.

As jy ʼn kar kan bekostig, moet jy sekerlik ʼn huis ook iewers hê. Wat as sy vir een van húlle kan gaan werk. Elke dag. In hulle huis? ʼn Loon wat elke dag dieselfde is – nie gebonde aan hoe seer haar been geraak het of hoe min skroot sy in haar sak kon bymekaarmaak nie?

Sy kyk of sy ʼn vriendelike gesig iewers kan sien. ʼn Teken dat haar durf daad sal kan word. As sy mooi vra. As sy beleefd is. As sy belowe om hard te werk.

Die mense in die karre op die hoofweg staar voor hulle uit. Niemand sien haar raak nie.

Nee, dis net ʼn droom, maan Paulina haarself as die son op twaalfuur staan en Speedy homself verskoon om vir die res van die middag te verdwyn.

Sy werk alleen tot sy uitgeput en moeisaam dit tot by die optel-punt maak. Die wind pluk aan haar kopdoek op pad terug. Sy sien haar vriend eers weer by die herwinningsaanleg. Hy wag in die ry.

“Het jy gewen, Paulina?” vra Speedy, sy mond tandloos toe hy verby haar kom, sy asem wat alweer na drank stink.

“So-so, antwoord sy bot. Sy wag vir die man wat die skaal beman. Hy sal bepaal wat hul arbeid werd was.

Uiteindelik plaas sy haar bultende optel-sak met tinblikkies en die handvol boute en moere op die skaal nes Speedy se dun raam tussen die rye mense verdwyn.

“Ses-en-sewentig, Paulina.” beslis die man langs die skaal, sy sigaret tussen sy onderlip en sy bo-tande vasgeklem.

“Dankie, Baas.” bevestig Paulina, terwyl sy bakhand die note en munte aanvaar.

Om te stry oor die presiese bedrag rek net die vertrek-tyd huis toe uit.


Sy kom saam met die donkerte tuis. In die sinkhuis staan haar sitkamerstel langs haar bed. Vir twee jaar het Paulina daaraan afbetaal. Dit is gerangskik soos dit ʼn ordentlike huis sou betaam. Die stel is só geplaas, dat almal wat daarop rus vind na een plek staar: die kartondoos waarop ʼn TV-stel eendag sal pryk.

Paulina smeer Zam-buck oor haar bors en Dolly Varden waar die gespe haar been stukkend geskaaf het. Terwyl sy insluimer, dink sy aan die dinge wat sy nié in haar sak gegooi het nie. Kitskos-sakke wat nog skyfies, tamatiesous en asyn in klein hoeveelhede binnekant oor het. Ou speelgoed. Bababottels met vrot melk. Skoene sonder sole. Verslete briewe. Tydskrifte. Soms kry sy iets van waarde, soos die pakkie bankstate wat sy oopgeskeur en probeer lees het. Soveel syfers in gelid het sy nog nooit gesien nie.

En op die voorkant van die brief. Die adres van die eienaar.

Sy ken die buurt.

Haar dagdromery word haar nagdroom.


In die oggend maak sy gereed, maar nie vir die herwinningsaanleg nie. Sy trek haar beste romp aan. Elke derde Dinsdag neem sy ʼn ander taxi. Paulina pendel tot by die provinsiale hospitaal. Die ry is lank. Sommige dae sien die dokter haar nie eens nie. Sy moet dan wag vir die volgende maand.

Vandag het sy egter die geld vir ʼn ander taxi gebruik. Die dokter en haar been kan wag.


Haar hart klop vinnig. Al die huise in die buurt het enorme grasperke waaragter nóg groter huise soos brulpaddas in die oggendson sit en bak. Sy moes rondvra, want die letters op die voorkant van die brief wou net nie vir haar verstand sin maak nie. ʼn Munisipaliteitswerker verduidelik haar tot hier: ʼn groterige huis wat soomloos by die res van die buurt insmelt met palmbome en struike wat die tuin versier.

Die tuinjong wat haar ingelaat het, hark dooie blare bymekaar terwyl hy Paulina sylangs dophou. Sy stap stadig, maar beslis, met die oprit aan en dan teen die stel trappe uit.

Bewend, reik Paulina se vinger vir die ronde knoppie. As sy dit druk, klink ʼn skril geluid van agter die voordeur op. Sy vee die plooie in haar romp plat, en toe die handvatsel roer, druk sy haar mank been agter die ander een in.

“Goeiemore, kan ek help?” vra die vrou van agter die half-oop deur. Hulle kan dieselfde ouderdom wees, dink Paulina terwyl sy na woorde soek. Dis ʼn mooi, fyngeklede vrou.

“Goeie more, Mevrou. Ek, ek,” stammer Paulina.

Die dame met haar bottelbruin kapsel en gladde vel staar haar vraend aan.

Sy trek haar asem diep in. “Goeiemore, Mevrou. My naam is Paulina Gumede.” Sy frommel haar hande met ʼn glimlag inmekaar. “Ek is goed met kinders, Mevrou. En ek kan was en stryk en ek kan vloere was en kos maak en afstof,”

Die vrou bly Paulina aanstaar. Asof sy iets snaaks gesê het. Of dom is.

“Ek kan werk, Mevrou,” sê Paulina toe die vrou se oë eers oor die hoë-brug skoen aan haar linkervoet gly en toe verder teen haar been oprank om op die gespes en staalstawe te rus. Agter Paulina raas die tuinjong se hark nou oor die plaveisel. Haar ore begin suis. Sy wens sy was nou myle hiervandaan. Iewers langs ʼn snelweg; besig om weggooigoed op te tel.

“Ek sal selfs die hond was, Mevrou,” sê sy moedeloos as die vrou haar net stilswyend aanstaar. “Of die meneer se klere pars,”

“Hier is lank nie meer ʼn meneer nie.” verbeuk die vrou uiteindelik haar stilte. “Dit is net ek en hy,”

“Dankie. Totsiens, Mevrou.” Paulina draai sukkelend weg, die tuinjong kyk anderpad. ʼn Hand wat aan haar skouer raak is die laaste ding wat Paulina verwag en sy is verbaas oor die glimlag wat haar inwag toe sy omdraai.

“Jou been?” vra die vrou. “Wat het gebeur?”

“Dit was ʼn siekte,” Paulina lig haar skouers. “Toe ek ʼn kind was, het ek ʼn virus opgedoen. Die dokter sê ek was nie daarteen ingeënt nie. Daarom het my been só gegroei.”

Die vrou glimlag wrang. “ʼn Doodeenvoudige inspuiting kon dit verhoed het, weet jy”

Paulina weet nie wat om te antwoord nie. Selfbewus, trek sy haar romp laer, maar die soom bly net-net bo die gespe hang.

“Dit keer my nie, ek kán enige iets doen, Mevrou,” sê sy, ietwat verbaas oor die opstand in haar eie stem. “Ek het met hierdie twee hande my ma tot op haar laaste versorg en ek was toe maar vyftien,”

“Ek lees in die koerant van ʼn siekte wat tans in China uitgebreek het.” Die vrou kyk ingedagte verby die voorportaal na binne die huis. “En hierdie keer is daar geen inenting beskikbaar nie, maak nie saak wie jy is of waar jy vandaan kom nie,”

Weer staan Paulina verwese. “Ek het nie daarvan geweet nie, Mevrou,” sê sy amper verskonend.

“Waar is jou mense?”

“Ek het nie mense nie, Mevrou. My ma is lank reeds dood. Ook van ʼn siekte waarvoor daar geen medisyne was nie.”

Die vrou se oë versag.

“Ons gaan iemand kort om ons te help. Wat het jy gesê is jou naam?” vra sy sag.

“Paulina. My naam is Paulina Gumede, Mevrou.” antwoord sy.

“Paulina, wat sou jy daarvan dink as ek aanbied om jou te beproef?”

“Goed, Mevrou.”

“En as dit nodig sou wees, sal jy hier kan kom bly?”

“Hier?” vra Paulina oorbluf.

“Ja. Daar is ʼn spaarkamer. En jy kan jou goedjies bring.”

“Waarom sal ek hier wil bly, Mevrou?”

“Op die radio praat hulle daarvan dat ons binnekort dalk in ons huise sal moet bly. Vir ʼn baie lang tyd sal niemand nêrens heen mag gaan nie. Beide my huiswerkers is vanoggend na hul families in die Oos Kaap. Ek is so bang om alleen te wees met hom. Ons gaan mekaar nodig kry,”

“Maar daar is tog die hele stad, die townships, die taxi’s en busse, Mevrou. U hoef nie alleen te wees nie,”

“Jy verstaan nie, Paulina. Jy sal nie verder as jou voordeur mag gaan nie,”

“Ekskuus, Mevrou?” vra Paulina in ongeloof.

“Nêrens. Jy mag alleenlik in jou huis bly.”

Haar mond droog uit. “Vir hoe lank, Mevrou?”

“Niemand weet nog nie. Maar dit kan so lank as drie weke wees, dalk meer,”

Dit voel vir Paulina asof sy droom. As sy nêrens heen mag gaan nie, hoe gaan sy rommelplastiek en tinblikkies optel om vir geld te verruil? Wat gaan sy eet. Waar gaan die paraffien vandaan kom om die primus aan die gang te hou.

“Is jy oukei, Paulina?” vra die vrou nadat sy vir ʼn wyle net geskok om haar rondkyk. “Ek het nie bedoel om jou te ontstel of in die gesig te vat met my aanbod nie. Dalk as jy sien wat ek bedoel, sal jy verstaan en my aanbod ernstig oorweeg,”

Sy neem Paulina aan die hand, maar in die groot ingangsportaal, tussen die enorme skilderye en glasornamente, voel Paulina skielik duiselig. Die gedagte dat sy binnekort in haar sinkhuisie opgesluit sal wees vir weke aan een met net die bietjie kos en paraffien wat sy het, is besig om haar te oorweldig.

“Ek moet gaan, Mevrou,” Sy pluk haar hand terug en mik vir die voordeur. Sy moet so vinnig as moontlik by die herwinningsaanleg uitkom. Sy sal dag en nag moet werk. Sy sal Speedy moet vra om haar te help.

“Asseblief, nee!” Die vrou gryp vir haar pols. Daar is trane in haar oë en haar stem is smekend en paniekerig. “Die suster wat gewoonlik hier werk het vanoggend geskakel. Die regering verplig hulle om by die naaste hospitaal aan te meld. Sy kan nie meer hier werk nie. Ek gaan werklik hulp benodig en ek kan nie eers ʼn motor bestuur nie, watwou na hom omsien én die huishouding behartig én hierdie virus oorleef,”

Paulina se hart wil deur haar ribbes breek. “Ek, ek kan nie, ek moet geld gaan maak, ek moet self kos gaan kry, Mevrou,”

“Kos is nie ʼn probleem nie. Geld ook nie. Asseblief. Enige iets.” Die vrou se hand klem stywer om haar pols “Hy is al wat ek oorhet,”

Haar kop is besig. Dwalerig, volg sy die vrou in die gang af. Die lug ruik na Savlon en medisyne. Voor ʼn deur kom hulle tot stilstand. ʼn Piep-piep geluid kan van agter die deur af gehoor word.

Die deur gly stadigaan oop. Die vertrek lyk meer na ʼn hospitaalkamer as ʼn slaapkamer. Verskeie pype en drade hang van ʼn bed af en langs die figuur van die maer seuntjie in die bed, piep-piep ʼn masjien ongestoord voort. Die vrou se stem is amper onhoorbaar.

“Hy was maar ʼn klein baba toe die siekte sy brein aangetas het,”

Die vrou rus haar hand op die seuntjie se borskas wat gelydelik sak en styg en dan kyk sy vir Paulina se linkerbeen, die vodde handsak waaraan sy klem en die vrees in haar oë.

“Ons kan mos na mekaar kyk. Ek kyk na jou. Jy kyk na my. Ons kyk na hom. Asseblief. Jy móét hier bly. Asseblief.”


Paulina stap tot by die bed. Die kind is tengerig en sy oë toe asof hy in ʼn diepe slaap verkeer. Sy wil haar verbeel dat daar ʼn glimlag om sy mondhoeke speel. Hy is totaal onbewus van hierdie wêreld se pyn en angs.

Paulina neem die vrou oorkant haar se hand sagkens in hare.


6 views