• Sidney Gilroy

Sade in die wind

Lank terug het ek 'n arm gesin geken. Hulle het saam met ander mense op 'n plot gebly. In skeephouers. Ek het per abuis van die plot tussen die bloekombome uitgevind. Dit was net nadat ek lewend uit 'n wrak op die R59 gehaal is. Ek kry steeds nagmerries van die klank van staal wat om my frommel; die verwarring van stemme wat ander waarsku om "nie te kyk nie" en die reuk van olie oor warm teer. Daarna voel ek vir 'n paar weke verdwaald tot 'n vriendin vir my sê, jy is ongeanker. Kom oor jou gebreekte ribbes en die oorlewing van jou gewisse dood en gaan help ander.


Dit was 2009. Almal het swaargekry. Baie fabrieke het toegemaak. Só eindig ek met arms vol babagoed by 'n kleuterskool in die dorp op. Die foon lui terwyl ek voor die ontvangsdame staan. Die gesprek is stram, tog dringend en heel uit plek met stemme wat skater en joel in die agtergrond. 'n Kleuter is vanoggend afgelaai. In gips. Van haar enkels tot by haar nek. Dit is die welsyn wat geskakel word.

"Was sy in 'n ongeluk?" vra ek as die ontvangsdame die foon neersit.

"Nee," Sy skud haar kop. "Die ma is 'n skisofreen. Dit het al voorheen gebeur, maar nog nie só erg nie."

"Enkelma?" raai ek.

"Dis net sy en die kind,"

Ek wys na die doeke en NAN-blikke tussen ons. "Het sy hulp nodig?"

"Mevrou Jacobs van die welsyn het gaan kyk. Hulle bly in 'n woonstel in Loch straat. Bo die kafee,"

"Kan ek haar nommer kry?"


Die woonstel was verlate toe ek daar kom. Dit vat nie veel om die welsynkantore op te spoor nie. 'n Triesterige rooibaksteen-geboutjie sonder 'n grasperk naby die industriële gebied. Mevrou Jacobs is 'n bruin vrou agter 'n stapel leêrs. Sy het die gesin na 'n skerm geneem. Hulle is ses maande agter met die huur. Meeste van die meubels is al verpand. Die ma het in 'n oomblik van waansin die meisie se stootwaentjie aan die bopunt van die trappe omgetiep. Ek vra vir aanwysings.


Verby 'n informele nedersetting en plotte vol skrap vind ek die klein plantasie en tussen die bome; meer as 'n honderd mense. Mans. Vrouens. Oumense. Kinders. Elke skeephouer is met karton of sinkplate in drie kamers verdeel. Die enkele uitgang word as stoep gebruik. Daarop sit die inwoners, voosgebrand, en hou kleintjies dop wat in rooigrond en stof met klippe en die oorblyfsels van poppe speel. Die lug ruik na verskroeide gras.

Ek word verwelkom asof hulle my verwag het, 'n tikkie verligting as ek sê dat ek nie 'n afgevaardigde van 'n kerk in die dorp is nie en toe teleurstelling as daar nuuskierig na die leë laaikant van my bakkie geloer word.

Ek verduidelik na wie ek opsoek is. Ek kry die indruk dat hulle mekaar nie werklik ken nie. Toe ek noem dat sy vandag maar hier aangekom het, word ek na 'n buitegebou gelei.

Die pleisterwerk val in groot skerwe van die ongeverfde mure af. Daar is nie 'n deur nie. Ook geen elektriese lig binnekant nie. Die gebou was voorheen 'n stal van soorte. Dit lyk klam. Sy sit op 'n bierkrat, skuins van die ingang, sodat haar gesig versteek bly. Haar kniegkoppe wys deur die materiaal van haar rok; haar hande rustend daarop. Ek verbeel my haar bleekerige, maer vingers om die stootwaentjie se handvatsels. Ek staan buite en praat. Die kleur van haar oë val my op. Dartelende blou poele. Haar sinne is presies en sy gebruik woorde wat my laat dink dat sy nie 'n Gautenger is nie. Kaaps, dalk. Ek vra oor die kind. Haar naam is Elisa. Mens spreek dit uit asof in Engels.

Sy het nie my hulp geredelik aanvaar nie en ek moes ook "uithelp" met van die ander inwoners se behoeftes. Ek skakel in by die string kerke en uitreikaksies; hou my oog op Elisa, wie se gips metertyd verdwyn. Sy is 'n mooi kind met haar ma se oë en blonde hare wat weerbarstig agter haar ore krul. Sy praat min en gee nie veel aandag aan wat buite haar onmiddelikke dampkring aangaan nie. Maaitjies maak sy nie. Die enigste keer wat ek haar sien speel het, was toe sy agter perdeblomsade in die wind aangehardloop het.

Elisa en haar ma trek nie uit die stal uit nie, maar ek is gerus dat die kind skool toe gaan en daar elke aand 'n bord kos vir elkeen onder die afdak, wat as kommunale kombuis funksioneer, gehaal kan word.

Saam met Mevrou Jacobs word Elisa se leêr bygehou. Solank sy eet en veilig is, is pleegsorg nie 'n opsie nie. Ander probleme duik egter by die skool op. Elisa sukkel met basiese vaardighede. Sy verloor gewig. Sy bly slaaperig. Mevrou Jacobs kry vrottende borde kos en talle leë hoesstroopbotteltjies onder die bed in die stal. Elisa daag by die skool op met blou kolle. En brandmerke. As die skroewe aangedraai word, begin Elisa se ma praat van familie in Natal, maar sy kan nie name of telefoonnommers noem nie.

Van die ander inwoners begin skinder. Elisa se ma praat met haarself. Sy hoor stemme. Sommige nagte skree sy. Elisa ook. Tot 'n versmorende klank, soos 'n hand wat oor 'n mond gedwing word, van uit hul kamer opklink. Mevrou Jacobs ontbied 'n sielkundige. Die pille wat voorgeskryf word, is altyd voor die einde van die maand klaar. Elisa slaan nou aan die ander kinders by die skool. Sy maak haar broekie nat. Haar eerste sinne is vol swetswoorde.

Uit desperaatheid sit ek by as daar aan Elisa se ma verduidelik word dat dit die lááste keer was.

Ek sal nooit die leë blik in haar oë of die grynslag om haar mondhoeke vergeet nie. Sy wieg haarself terwyl Mevrou Jacobs die aannemingsproses verduidelik. Elisa sit afgetrokke langs die krat.

Die oproep kom skaars drie dae later. Die stal is vanoggend leeg gevind.

Ons het die polisie laat weet. En die verkeersdepartement. 'n Patrolliemotor sweer hulle is by 'n rusplek in Villiers opgelet. Ek self ry die dag my petrol uit. Buitekant Warden op die N3 word hulle die laaste keer gesien.

Elke keer wat 'n perdeblomsaad deur die wind opgeswiep word, dink ek hoe oud sy vanjaar word.

0 views