Swaar weer

In die verte skeur 'n bliksem die lug. En dan 'n tromgeslaan wat bombasties en dringend nader rol. Swaar weer is op pad. Die reën is eers...

Mekaar

Paulina Gumede staan op saam met die morester. As sy haar kaia se deur met haar elmboog oop du en die kers in haar hand na buite hou, wee...
  • Sidney Gilroy

Sit jy?

Dis bliksems koud vanoggend, dink Herklaas toe hy die tuinhekkie agter hom toetrek. Hy trek sy keps laag oor sy oë wanneer hy verby die groot vensters van Missus Torres se herehuis stap. Toe hulle voordeur klap, sou sy op haar krukke na die naaste venster gesukkel het om te kyk. Missus Torres hou die krakerige deur van die buitekamer waarin hy en Me’kie woon soos ʼn valk dop.

Daar is ander redes waarom sy kyk ook. Hy en Me’kie skuld haar nog laas maand se rent, maar die landlord moet maar wag totdat sy pensioen goedgekeur word deur die goewerment. Hy en Me’kie kom skaars uit op haar karige geldjies. Missus Torres het darem die oubaas se geld wat sy kan gebruik. Hoe dan anders kry daai katedraal met sy blink gepoleerde vloere elke herfs nuwe gordyne, dink hy toe hy die sente aftel vir die bus drywer.

Terwyl hy saam met die ander passasiers heen en weer wieg soos die bus van bo teen die berg tot onder in die stad teen die nat strate afsypel, dink Herklaas aan die vele gate wat Me’kie se pensioen dié maand moet stop. Die bloekomolie vir haar bors is bo aan die lys. Hy slaap niks as Me’kie so lê en hyg na haar asem in die nag nie. Al trek daai rugstring van haar ook hoé skeef, en daarmee saam haar longe, sal sy tog nooit die rokery los nie. Twee bottels bloekomolie. Dalk drie. Laat hy haar rug kan insmeer. Sommer haar borsbeen ook. Dis soveel vir hom as vir haar. Niemand tel ʼn man met leep oë by die hardewarewinkel op vir stukwerk nie.

In sy kop maak hy somme terwyl die bus se wiele die teerpad opeet. Hy het die nodige eetgoedjies soos stysel, soppoeier en eiers afgetrek van die bedrag wat oorbly van dít wat in die rekening inbetaal is. Die SMS van die bank kom klokslag net ná twaalfuur op die vyf-en-twintigste van elke maand. Dis darem een ding, dink Herklaas terwyl hy kyk hoe die mense voor die bus maal in hul hordes; die goewerment is op hul plek en betyds. Nog elke maand verskyn die geld vir Me’kie se pensioen stiptelik.

Na hy voorsorg getref het vir die bloekomolie, die seep en geld vir ʼn faks en dalk ʼn oproep om die gedoente met sý pensioen uitgesorteer te kry, bly daar darem vyf en tagtig rand oor. Soos gewoonlik, sal hy die hele bedrag op een slag uit die ATM ontrek. Dit wat oorbly, sal hy wegbêre in die boonste sak van sy flenterbaadjie wat agter die voordeur hang. Somtyds groei die pakkie note as hy stukwerk kry. Soms verdwyn dit alles voor die eerste dag van die nuwe maand.

Die ry by die bank kronkel al om die hoek. Mense van alle kleure en fatsoene wag geduldig hul beurt af vir die twee elektroniese masjiene wat onbehoudend geld uitspoeg. Die voorpante van sy trui is papnat met motreën teen die tyd dat die mense voor hom slegs vyf of ses tel.

Dan is dit sy beurt.

Sy vingers pyn eintlik van die koue, dink hy, toe hy die pinkode insleutel. Vir ʼn oomblik aarsel die blink liggies van die masjien. Dan verskyn die skerm wat hy herken. Hoeveel geld wil jy trek, vra die masjien. Outomaties druk hy die “Ander” knoppie teen die skerm se sykant. Die bedrag van Me’kie se pensioen is mos so ʼn ongelyke syfer. Hy moet die nommers presies insleutel om op een slag álles te kan ontrek.

Sy hart bokspring toe hy die opsie aan die oorkant van die skerm met geluk raaksien. Herklaas knip sy oë terwyl sy vinger steeds bo die “Eie Bedrag” knoppie hang. Dit kan mos nie wees nie. Hy buk af, om só die skerm van nader te bekyk. Waaragtig; daar onder aan die skerm wys die maksimum bedrag wat hy kan trek as ʼn volle drie duisend rand!

Skielik voel sy mond droog. Drieduisend?

Vinnig druk Herklaas op die maksimum opsie.

Hy kan sy hart in sy ore hoor klop. Senuagtig kyk hy om na waar die persoon in die ry agter hom besig is om haar voet ongeduldig op die sementblokke van die plaveisel vir hom te tik. Hy wag vir die ATM om iets te doen. Dit voel soos ʼn leeftyd wat die ding vat om te dink. Dan kan hy hoor hoe die masjien se binnegoed begin draai en amper onmiddellik word die geld in een, dik pak note uitgespoeg. Drieduisend! Hy voel duiselig terwyl hy die geld blitsvinnig gryp en by sy broeksak insteek.

“Wil u nog ʼn transaksie doen?” vra die masjien hom nou.

Hy kyk vlugtig om. Die vrou tik steeds haar skoenpunt. Hy veins ʼn glimlag.

Sal hy die kans waag?

“Ja” druk hy gou en weereens wys die masjien dieselfde maksimum bedrag; drie duisend rand. Herklaas druk die knoppie. Woer! maak die masjien en spoeg hy dan die pers note uit. Hy druk dié pak in sy ander broeksak in en dan gryp hy die kaart wat uit die bek van die ATM volg. Hy kan hoor hoe die masjien ʼn strokie agter hom uitdruk, maar Herklaas is alreeds aan die onderpunt van die straat toe hy omkyk en sien hoe die ongeduldige vrou die papiertjie opfrommel en dan in die asblik smyt. Sy het nie eers na die strokie gekyk nie.

Sy polsslag én asem jaag toe hy sy trui tot vêr onder sy belt aftrek en koers na die naaste winkel kies.

Hy gaan kruip eers in Checkers se badkamer weg en tel die note een vir een af, terwyl die mense buitekant in die sentrum soos ʼn swerm swaeltjies raas. Presies sesduisend rand. Hy kyk oorbluf na die hoop geld tussen sy krom vingers.

Herklaas hop van die skrik toe daar van buite af teen die deur gehamer word.

“Is daar iemand daar binne?” vra die persoon angstig.

“Ek… ek is nou klaar.” sukkel hy oor sy woorde.

Hy het skoon tred met tyd verloor, dink hy, toe hy verby die sekuriteitswag skuur wat hom kwaai aankyk. Hy gaan was kamstig sy hande onder die kraan en dan staan hy lank voor die masjien wat die warm lug uitblaas sodat sy trui effe droeër daarna uitsien.

Die lysie wat hy in die bus op pad hierheen gemaak het kom vir hom meteens verspot voor. Hy hoef nie net die goed op die lysie te koop nie. Hy kan énige iets koop.

Herklaas stap selversekerd verby die kassiers en na die ingang van die winkel. Hy wik en weeg tussen ʼn mandjie en ʼn trollie. Met ʼn stoute glimlag om sy mondhoeke, stoot hy ʼn diep trollie tot voor die rye kruideniersware. Tussen die magdom kos, skoonmaakgoed en lekkernye vergeet hy van die lysie in sy kop en koop hy homself moeg. Maklik twee ure later is die trollie vol en gaan staan hy in die ry agter die ander kopers. Toe hy uiteindelik die laaste items triomfantlik op die toonbank uitstal sodat dit opgelui kan word, onthou hy van Me’kie wat tuis op hom wag.

“Wag net gou. Ek is nou terug!” Die dame agter die kasregister is nog besig om die berg items een vir een verby die rooi ogie van haar masjien te swaai en sy kyk skaars op toe hy vinnig terugstap na die rakke toe. Uitasem sit hy die botteltjies bloekomolie voor haar neer.

Hy het twaalf gevat. Genoeg vir ʼn hele jaar.

Met die trollie tot oorlopens toe vol en met die geel plastieksakke wat bult van die goed wat hy gekoop het, voel hy skielik verlore toe hy by die winkel uitstap. Hoe gaan ek dié lot by die huis kry, dink hy paniekerig. Hy sal nooit as te nimmer al die sakke self gedra kry nie, watwou op ʼn bus kan klim daarmee? Kwaad vir homself, laat hy die wieletjies rol tot hy weer voor die badkamer tot stilstand kom. Hoe nou gemaak, wonder Herklaas. Dan herken hy die sekuriteitswag van vroeër.

“Sal jy vir my kyk?” hy beduie met sy kop na die oorvol trollie terwyl hy in sy sak voel vir die geld. Hy bring ʼn enkele noot te voorskyn.

“Kyk vir my, asseblief,” vra hy weer.

Die wag aanvaar gelate die aanbod. En die noot.

Weereens tel Herklaas die geld nadat hy homself toegesluit het in een van die stalletjies. Selfs ná sy malgeit, is daar steeds meer as drie-duisend-agt-honderd rand oor!

Hy kan dit bekostig.

“Weet jy waar kan ek vir ʼn taxi bel?” vra hy die wag toe hy die trollie uit sy hande neem. “Een van daai fêncy taxis. ʼn Kar. Net vir my en my goed.” verduidelik hy homself aan die sekuriteitswag wat hom nou vraend aankyk.

Die wag lei hom na ʼn ronde toonbank in die middel van die inkopiesentrum waar ʼn vriendelike dame hom te hulp staan. Sy vra vir die strokie van Checkers af. Sy sal iets reël, sê sy. Sy inkopiesakke word vir hom ingelaai. Hy het verbouereerd opsy gestaan en die drywer van die taxi maar laat begaan. Nou sit hy op die agtersitplek van ʼn Mercedes-taxi op pad terug na Me’kie en Missus Torres se kasarm.

Die taxi volg ʼn langer pad as die bus. Herklaas verkyk homself aan die huise en netjiese tuine waarby die taxi verby ry.

Uiteindelik draai hulle by hul straat in.

Herklaas waai vriendelik vir Missus Torres toe sy hom aangaap deur haar voorruit waar hy ʼn ruim fooitjie vir die taxidrywer aangee, nadat dié al sy sakke tot reg voor die buitekamerdeur gedra het.

“Me’kie” hy klop saggies aan die deur. “Dis ek.”

“k kom.” antwoord haar stem van waar hy weet die wiegstoel staan waarin sy haar dae afslyt.

Die slot in die deur kraak. Dan gaan sy aan die hoes. ʼn Klank wat hy ken.

Stadigaan swaai hulle voordeur oop.

Hy kyk trots na die sakke om sy voete. Soos ʼn jagter van ouds voel hy waar hy tussen die proviand staan. Hy kan skaars homself beteuel toe Me’kie die deur ten volle oop het.

“Vir wat klop jy dan?” haar woorde word stil en haar oë groot toe sy hom en sy sakke inneem. “Jirre, Herklaas. Wat het jy gemaak?” haar hande vlieg tot voor haar mond in ongeloof.

Hy glimlag van oor tot oor terwyl hy die sakke twee-twee verby haar indra en op die bed neerlê.

“Wie het vir jou geld geleen?” vra sy kwaai. “Jy weet ons kan nie…”

“Niemand, Me’kie, niemand het vir my geld geleen nie. Die is alles ónse goeters. Skuldvry.”

ʼn Warmte trek oor hom toe hy sien hoe Me’kie deur die sakke begin grou en sy oopmond en uittand glimlag vir die skatte wat sy uitpak. Sigarette. Gouestroop. Popcorn. Sagte toiletpapier. Lux. Marmite. Piesangs. Spaghetti. Boeliebief!

“Nou ga jy eers vir my vertel waar en hoe jy die goeters gekoop het, Herklaas Thomas.” sê sy toe sy uiteindelik uitasem tot bedaring kom en weer na haar wiegstoel terugsukkel. Uit die manier waarop sy hardhandig haar pyp uitskud en dan vir hom loer van oorkant die wolkie rook met haar oë skrefies getrek, weet Herklaas dat Me’kie nét die waarheid sal aanvaar.

Hy wonder of sy hom ooit sal glo.

Nietemin, vertel hy haar die hele storie en eindig hy af deur die oorblywende geld van uit sy broeksakke te trek en op haar skoot neer te lê.

“Herklaas!” is al wat sy uitkry terwyl sy met bewende hande deur die geld tel. Met ʼn kort stilte tussen hulle, weeg elkeen die situasie se uitkomste en gevolge op, voordat hy eerste praat.

“Ek gaan dit nie rapporteer nie, Me’kie.” hy sluk hardop terwyl hy na sy hande toe praat. “Ons het al genoeg gesukkel in onse lewens. Ons hou hierdie geld.”

“Maar, Herklaas…”

“Ek het klaar gepraat, Me’kie. Is ónse geld die.” hy kyk vas in haar melkerige oë met die wit kringe om die swart terwyl hy die note bymekaarmaak. “Ek gaan Missus Torres die agterstallige rent gee en dan nog drie maande s’n vooruit betaal. Dan het ons nog genoeg oor om ons te dra to’lat ek weer teël- of tuinwerk kry.”

“Herklaas.” sy naam talm in die klein vertrek terwyl sy eers aan haar pyp suig.

“Ek het klaar gepraat, Me’kie!” Hy swaai sy vinger asof sy na hom sou luister. “Dis onse geld. Basta daarmee!”

Me’kie rol haar oë voordat sy rook uitblaas en dan verder in haar wiegstoel wegsak.

“Ek meen jy moet ga kyk of daar nie nóg geld in die rekening oor is nie.” beduie sy met haar hande.

Geskok kyk hy na Me’kie wat nou skalks vir hom glimlag van agter haar pypsteel.

Sy is reg. Hy het nooit eers daaraan gedink nie. Wat as daar nog geld in die rekening oor is. Wat as dit nie net die ses duisend rand was nie? Hulle kan vir altyd só lewe.

Hulle spreek af dat hy oor twee dae na presies dieselfde ATM sal terugkeer, wanneer die pensioenrye minder geword het. Tot dan swyg hul beide as iemand sou kom vra.



Me’kie was reg, die masjien het elke dag ʼn nuwe sesduisend rand vir hulle uitgespoeg. Oor die volgende drie weke koop hy en sy vir hulle wat hulle harte begeer; eers nuwe beddegoed, gordyne en ʼn verwarmer; toe sommer ʼn nuwe bed, televisiestel en hangkaste ook.

“Herklaas het bouwerk vir ʼn maand of twee gekry.” lieg Me’kie toe Missus Torres dit vir die eerste keer in jare buite haar huis waag om te kom kyk waaroor die bohaai gaan toe die winkel se lorrie die nuwe meubels met ʼn geraas kom aflaai. Sy skud net met opgetrekte wenkbroue haar kop op en af vir Me’kie, wat teen dié tyd die pyp gelos het en nou aan ʼn sigaret staan en suig. Haar bors is ook baie beter in die nagte, dink Herklaas, terwyl hy die twee dop hou oor die koppe van die winkel se werkers wat die dra-werk doen. Hy besluit dat hy haar more na die strand toe sal neem. Die klam lug sal haar longe aanhelp. En Me’kie was jare laas naby branders of selfs buite die buurt.



Die volgende dag pak hy en Me’kie die rugsak vol beskuitjies, gevriesde lemoensap en toebroodjies wat sy die vorige aand gemaak het. Daar is biltong en droëwors ook.

Hy skakel ʼn taxi om hulle te vat. Lank staan Me’kie verwonderd met haar een hand op haar kierie en die ander oor haar oë om die promenade en die strand en sy baaiers te bewonder.

Hy help haar by die sementtrappe af tot op die warm sand. Die handdoeke sprei hy naby die badkamer oop. Hy huur ʼn sambreel en daaronder pak hy die feesmaal van uit die rugsak uit. Hulle smul daaraan tot net papiertjies en krummels oorbly.

“Ek het ʼn ATM langs die strandkafee gesien. Ek gaan gou ʼn paar rand trek. Vir as ons later iets anderste wil eet.” Sy knik innemend vir hom terwyl sy na die kinders staar wat met ʼn kleurvolle bal in die vlakwater baljaar.

Herklaas kyk met ʼn glimlag terug na Me’kie wanneer hy na die ATM toe stap. Sy sit sorgeloos onder haar breëband hoed, haar liggaam skeef op die splinternuwe handdoek, die meeue wat vêr bo haar kop in die wolklose lug tol.

Daar is niemand anderste by die ATM nie. Hy sleutel die kode in. Sy hart bons weer, maar minder as gewoonlik.

Hy moet sy oë ʼn paar keer knip want sy brein wil nie glo wat hy op die ATM se skerm sien nie. Hy pluk die kaart uit die masjien en snol terug strand toe.

“Me’kie! Me’kie!” roep hy na haar toe hy by die leë handdoek kom.

“Die Antie is toilet toe.” antwoord ʼn haasbekkie hom wat duskant staan. Sy wys met die rooi grafie in haar hand na die baksteengeboutjie.

Herklaas steur hom nie aan die ander vrouens wat hom met ongeloof aankyk toe hy die badkamer binnestorm nie.

“Me’kie! Me’tjie!” klop hy aan elke toe deur.

“Ja, Herklaas. Wat is dit tog?” roep sy terug toe hy by die derde een kom.

“Me’kie.” hy is skoon uitasem. “Ek was by die ATM,”

“En?” roep sy van anderkant die toiletdeur.

“Me’kie. Sit jy?”

132 views

Recent Posts

See All

Swaar weer

In die verte skeur 'n bliksem die lug. En dan 'n tromgeslaan wat bombasties en dringend nader rol. Swaar weer is op pad. Die reën is eers soos vingers wat saggies oor die sinkdak en teen die ruite ter

Mekaar

Paulina Gumede staan op saam met die morester. As sy haar kaia se deur met haar elmboog oop du en die kers in haar hand na buite hou, weerkaats ʼn groot waterpoel waar daar gister net blink geloopte gr

Liggies vir Kersfees

Op Kersdag gebeur die mooiste ding. Die liggies en boom staan al vir 'n maand lank in ons voorhuis. Elke aand skakel ons dit aan om die kleurvolle geflikker oor die geskenke te sien dans. Meeste van d