• Sidney Gilroy

Swaar weer

In die verte skeur 'n bliksem die lug. En dan 'n tromgeslaan wat bombasties en dringend nader rol. Swaar weer is op pad. Die reën is eers soos vingers wat saggies oor die sinkdak en teen die ruite terg en dan hard en skielik oor die plotte uitsak. Die honde hardloop vir skuiling. Ons trek die vensters toe. Ek kan nie verder as die kweperboom sien nie. Die lug ruik eers na stof en toe, 'n vars reuk wat saam met hoendervleiskoue kom. Op 'n stadium klink dit asof die hemele vir ons kwaad is en ons in sy toorn wil versuip. Die krag gaan af. Ek trek die gaas weg. Die olifantsoor en die lelies se blare word deur 'n ongesiene hand op en af en heen en weer geklap. Blinknat. Ek wonder of die swaaiende stamme sal knak. As die natuur 'n stem gehad het, was dit beslis woedende Hoëveldstorms.

Vir bykans 'n halfuur reën dit só. Dit voel asof iemand op my skree.

Dan raak dit rustiger. Die gramstorige buffel het homself in 'n mate uitgewoed en nou is hy soos 'n kind wat lank en hard uit frustrasie gehuil het; saggies neurie die reën nou. Uitgeput. Die geraas van water wat val het bedaar, maar die werf is steeds leeg. Die hoenders en die honde en die katte en die voëls kruip steeds weg, al is die nattigheid nou net vlae irriterende druppels.

Maar dit hou ook op. Stilte. Onaardse verlatenheid. Die aarde skielik skoongewas.

In die teenoorgestelde verte beweeg die tollende, donker massa nou aan en die son lek deur die slierte wat oorbly. Steeds. Geen dier in sig nie. Asof hulle weet om die storm nie te pla nie, selfs nie in die doodsnikke van sy tantrum nie. 'n Salige verstandhouding van respek tussen dier en natuur. Maak waarmee jy besig is klaar, hééltemal klaar, dan kom ek uit om weer my gang te gaan.

Bruno is die eerste een wat dit van onder die afdak uit waag as die laatmiddagson se strale die grysklippe van die oprit in 'n flouerige, goue kleed verander. Hy skud homself woes. Rek sy litte. Sy wit voorpote is nou modderbruin en klewerig. Bruno ruik versigtig aan die deurweekte gras. Hy begin in die rigting van sy kosbak te draf terwyl hy selfversekerd klein wolkies deur sy snoet blaas. Die plasse waardeur hy ploeg pla hom nie. 'n Begrafnisduif begin versigtig van uit die kweperboom te koer nes Bruno sy eerste bekvol graaf.

0 views