In September 1998 vertrek die vier Ludick-sibbe en drie maats na Ballito. Net die drieling en hul vriende keer ’n week later terug na hul tuisdorp naby Bloemfontein in die Vrystaat. Van die sprankelende dertienjarige Lara Ludick se lewe het net haar dagboek oorgebly.

Dis byna sewe-en-twintig jaar later en die Ludick-drieling – Lötter, Oscar en Duan – worstel steeds met skuldgevoelens, elk op sy eie manier.

In Junie 2025 verdwyn ’n mediese student naby Veldrus, nie ver van waar die Ludicks en hul destydse pelle grootgeword het nie. Enkele dae later word die vermiste student se pa dood in ’n huurmotor naby die Bram Fischer-lughawe gevind. Kort voor lank begin nog liggame opduik. Aan elke slagoffer se oorskulp is ’n nommer duidelik sigbaar – gemerk soos ’n bees met ’n tatoeëerklamp. 

Sersant Sollie Mthembu se nuwe ondersoek lei hom terug na die onopgeloste Ludick-dossier. Om die moordenaar te stuit, en tegelyk iemand na aan hom se lewe te red, moet Sollie agter die kap van die byl kom: Is dit wraak? Of word mense stilgemaak? 

Roulette is bekroonde skrywer Sidney Gilroy se vyfde roman – ’n onthutsende krimi wat die effek van familiegeheime en gevaarlike speletjies onder die vergrootglas plaas.